GEMSBOK-UPINGTON: Die waterkrane van ons Rivierstad, is so te sê leeg, ondanks die feit dat die dorp langs die land se grootste rivier geleë is.
Raadslede, amptenare en werknemers het elkeen sy eie storie. Die feit dat waterbeperkings ter elfter ure ingestel is, gons op almal se lippe. Dit oorheers gesprekke op sosiale media en almal gooi ‘n arm in die stuiwer.
Intussen sukkel inwoners, veral in die buite wyke van die dorp, met water - en dit is al wat vir hulle belangrik is.
Verlede jaar het die defekte van die pompstasie en die opgradering en instandhouding van die reservoirs al ter sprake gekom. Dit was nie die eerste rooivlag vir die verskaffing van water aan al Upington se inwoners nie, maar een van vele.
Woongebiede buite die dorp sukkel al lank met water en inwoners moet snags opstaan om vir hul water te tap. Die naweek het selfs Paballelo sonder water gesit.
Dit is hierdie naweek op die spits gedryf toe die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, Vrydagmiddag aangekondig het, dat Upington nou waterbeperkings het en dat die Abraham Holbors September Waterbehandelingswerke, tans net 40-50% van die beskikbare kapasiteit produseer, Daar kan dus nie voldoende water aan die breër gemeenskap verkaf word nie.
Die verklaring lui onder andere as volg:
Die Dawid Kruiper Munisipaliteit stel hiermee die publiek in kennis van wateronderbrekings en waterbeperkings wat vanaf 30 Januarie tot verdere kennisgewing van krag sal wees.
Die betrokke gebiede is die hele Upington, Kalksloot, Klippunt, Louisvale-weg, Kalahari-Wes en rouwaterbesproeiingsgebruikers.
Die rouwater-bystandpompe wat foutief is, is aan die begin van Januarie 2026 na die Oorspronklike Ingenieursvervaardiger (OEM) gestuur. Die OEM is tans die enigste agent in die land, aangesien dit gespesialiseerde pompe is. As ‘n voorkomende maatreël het ons die nodige diens en inspeksie deur eksterne diensverskaffers uitgevoer, soos vereis.
DKM het meer as R2 miljoen vanaf Julie 2025 belê om te verseker dat die rouwaterpompstasie en pyplyn ‘n volhoubare voorraad kan lewer. Die voorwaardelike assessering van die pompstasie bewys dat die mislukkings ooreenstem met langdurige bedrywighede, as gevolg van hoë verbruiksvraag, terwyl ons poog om watervoorsiening aan alle gebiede te handhaaf.
DKM versoek dat die gemeenskappe ophou om oormatig water te verbruik.
1. Stop die besproeiing van plante en grasperke onmiddellik.
2. Geen vul van swembaddens nie.
3. Geen gebruik van water om sypaadjies of oppervlaktes skoon te maak nie.
4.Beperk u storttyd, beperk die volle vul van die bad.
5. Beperk die gebruik van wasmasjiene en skottelgoedwassers.
Slegs noodsaaklike gebruik: spoel, bad, kook en skoonmaak.
Die situasie is ernstig en vereis die hele gemeenskap se pogings en onmiddellike samewerking.
DKM vra om verskoning vir die ongerief en ons bly daartoe verbind om kwaliteit waterdienste aan alle burgers te verskaf.
Nadat die nuus verbruikers bereik het, het raadslid Flip van der Steen, die inwoners ingelig dat die burgemeester David Kazi, hom Vrydagmiddag om ongeveer 17:00 gebel het en gevra het of hy sal help om vir DKM pompe te soek. Hy noem dat sy poging om te help in die wiele gery is.
Mnr. Flip van der Steen het daarna die volgende inligting op Facebook geplaas:
Op Vrydag, 30 Januarie 2026 sal opgeteken staan as die dag wat munisipale amptenare, senior bestuurders, waarnemende direkteure en die munisipale bestuurder vir Upington uitverkoop het.
Gedurende November 2025 was die verskaffers van die rouwaterpompe hier op Upington om hierdie pompe te diens. Dit is die pompe wat water aan die suiweringswerke verskaf.
Die dienste is nie gedoen nie, want dit was te duur. Gedurende die laaste week van Desember 2025 het die pompe gebreek, dat daar slegs twee oor was.
In Januarie is hierdie pompe na die verskaffers gestuur om te kwoteer, om dit reg te maak. Dit sal ongeveer 3 maande neem.
29 Januarie 2026 brand een van die twee pompe uit - Upington is in ‘n waterkrisis gedompel.
Raadslid Van der Steen skryf o.a. verder dat nadat hy vir spesifikasies van die pompe gevra het, maar dat dit aan hom geweier is.
“Ek mag onder geen omstandighede ‘n foto laat neem of kry van die dataplaatjie van die pomp nie, aldus ‘n waarnemende direkteur.
Ek het dadelik ‘n groep van sewe verskaffers bymekaar gekry om te help soek na sulke pompe. Die pompe is baie spesifiek en daar is agt (8) sulke pompe in die land beskikbaar.
Teen 20:00 het die burgemeester vir my gebel en ek en hy en die hoof van waterwerke was op ‘n telefoon waar die burgemeester vir haar gesê het om die pomp se spesifikasies vir hom te stuur. Teen 22:12 het ek aan die verskaffers om verskoning gevra dat ek hulle tyd gemors het.
Die rede waarom ek nie die inligting kon kry nie, is omdat ek net die inligting wou hê vir ‘n persverklaring.
Ek wil dit katagories stel, dat ek geen plan gehad het om enige iets hiervan in die pers te plaas nie. Ek en die burgemeester het probeer om die amptenary te help om pompe te kry, om die waterkrisis op te los.
Daar is steeds geen inligting aan ons gegee nie. As ons vanaand al die inligting gehad het, kon die pompe dalk al op pad gewees het.”
Mnr. Van der Steen het hom ook as volg uitgespreek oor die toestand van Upington se reservoirs:
“ Die Koepeldam daar langs die wynkelder, kan minder as die helfte van sy kapasiteit hanteer weens swak instandhouding.
Die reservoirs by die Telkom toring is albei kruppel. Die een is leeg en die ander hou minder as die helfte van sy kapasiteit. Die twee is die hoofreservoirs van die dorp en buitegebiede.
Die dam in Keidebees is al vir etlike jare buite werking, omdat sy dak vervang moet word. Daar was voor begroot en dit is nooit herstel nie.
Hierdie kruppel opgaargeriewe is deel van die rede waarom daar so maklik waterkrissise ontstaan.”
Hy sê dat daar streng opgetree moet word teen amptenare wat verantwoordelik is vir hierdie krisis. Dit was voorkombaar as hulle die pompe op tyd laat diens het.
Mnr. Patrick Williams, woordvoerder het toe Saterdagmiddag die volgende persverklarings beskikbaar gemaak:
1. DKM het tot hede alle pogings geloods vanaf Julie 2025, gedurende die winter onderhoudsperiode, om die rouwater pompstasie instand te hou en defekte aan te spreek.
2. Die bewering dat DKM nie die pompe laat diens het of in Desember 2025 nagelaat het om die aanbod van ‘n diensverskaffer te aanvaar, omrede dat dit na bewering te duur is, is absoluut misleidend.
3. Gebeurlikheidsreëlings was alreeds in plek geplaas om die pompe weg te stuur vir die nodige hestelwerk en onderhoud.
Die diensverskaffer se ondersoekverslag het uitgewys dat die werke nie onmiddelik “op site” uitgevoer kan word nie en dat die pompe slegs in Johannesburg gediens kan word. Dit was gedurende die Desember 2025 periode, waartydens hul werkswinkel toe was, reëlings is dus formeel in plek gestel dat die spaar pompe in Januarie 2026 na die diensverskaffer gestuur word.
4. Die diensverskaffer wat tans die pompe herstel, is dieselfde diensverskaffer (oorspronklike vervaardiger) wat in DKM se persverklaring van 30 Januarie 2026 na verwys is.
5. Die DKM verwerp die gevolglike bewering dat daar nie pogings aangewend was om soortgelyke pompe, beskikbaar in die land, te probeer bekom nie. Dit moet duidelik gestel word dat die omvang van hierdie pompe nie “rak items” is nie wat in enige werkswinkel net beskikbaar staan nie. Pompe wat voldoen aan die tegniese vereistes van die bestaande DKM stelsel kon nie bekom word nie, dis hoekom die oorspronklike diensverkaffer genader was vir beide verskaffing en dienswerke as die agent van die pompe.
6. Die DKM het alle pogings aangewend om te verseker dat die diensverskaffer die versoek van DKM prioritiseer.
7. Wat die opgradering en instandhouding van die reservoirs betref, het DKM alreeds die tender vir die herseël van die reservoirs geadverteer en dus sal die projek eersdaags geimplenteer word. Die nodige tegnesie ondersoeke en assessering van die waterstelsel as geheel, is alreeds voltooi en alle nodige besigheidsplanne is ingedien by die relevante Departmente.
Die DKM het addsionele tydelike maatreëls in plek gestel om watertrokke beskikbaar te stel in die gebiede wat die ergste geraak word. Alles moontlik word gedoen om die situasie onder beheer te bring.









