Upington: Die Defence Force Collegians (DFC) se rugbyspan is tans op pad na die uitspeelrondtes van die ZFM-kompetisie. Dié span het Saterdag sy belangrike wedstryd teen Sunwolves met 41-17 gewen nadat hy rustyd met net 8-0 voor was.
In die tweede helfte het DFC die krane wyd oopgedraai en Sunwolves kon nie daarin slaag om al die gate toe te stop nie. Veral Mervon van Rooi en Nathan van Schalkwyk het die Sunwolves verdediging tot die uiterste onder kwaai druk geplaas.
Aan Sunwolves se kant het die buitesenter Remarco Groenewald altyd gevaarlik gelyk wanneer hy in besit gestel is.
Om op te som het die wedstryd nie heeltemal aan die verwagtinge voldoen nie. Ongedwonge foute en swak oordeel deur beide spanne het dikwels voorgekom in ‘n wedstryd waar daar ‘n paar mooi hoogtepunte was.
*Sunwolves het steeds ‘n buitekans om die uitspeelrondes te haal. Die DFC is sterk op pad om waarskynlik nog in die halfeindstryd te kom. Upington Dorp en Kakamas rugbyklub stoomroller steeds voort op pad na ‘n waarskynlike eindstryd gegewe die aantal ligawedstryde dié twee spanne nou alreeds gewen het.
* Puntemakers: DFC - (8) 41: Drieë - Nathan van Schalkwyk (2), Earl Deelie, CJ Farmer, Junaid Everson en Mervon van Rooi. Doelskoppe: CJ Farmer (3) en McNeil Hendricks (1). Strafdoel: McNeil Hendricks (1). Sunwolves: (0), 17. Drieë: Gerald Gewers, Chrizendo Brits en ‘n strafdrie. * In Keimoes het Upington Dorp sy ZFM- ligawedstryd teen Keimoes rugbyklub maklik met 53-10 gewen. Vir die besoekers het Siphe Mzebenzi, Lian Liebenberg, Rhozwin Scott, Sipho Livingue, Mpho Makoetlane, Michael Steyn, Wie Maree en Wilco Visagie (2) drieë gedruk. Doelskoppe: Wilco Visagie (3) en Lian Liebenberg (1). Samuel Johannes het Keimoes se enigste drie gedruk en Adri Friedberg het met die doelskop en strafdoel geslaag. * Berig: Nick Pretorius