GEMSBOK-UPINGTON: Die krieketspan van Upington Lions het Saterdag sy ZFM-halfeindstryd (40 bb) met Upington College naelskraap gewen om sodoende deur te dring na die eindstryd berig Nick Pretorius - wat die wedstryd op Op die Voorpos se krieketveld bygewoon het.
College het eerste gekolf en is almal uitgehaal vir 169 lopies in 37.1 boulbeurte op ‘n kolfblad wat hulp aan die kolwers verleen het.
Lance Howley met 32 lopies van 53 balle het hardnekkig vasgeskop vir College.
Die paaltjiewagter, Malcolm Isaacs se 37 van 46 balle het vier viere en ‘n ses ingesluit.
College se openingskolwer en kaptein Roberto Eiman het ‘n vinnige 25 lopies van 30 balle gemoker en dit het gelyk of hy ‘n groot beurt sou speel maar hy het sy paaltjie vroeg in hul beurt prysgegee.
Vir Lions het Gerrit Smits met die bal uitge-
troon en in sy toegelate agt boulbeurte het hy 3/33 laat spat.
Lions se beurt het stadig begin omdat College se openingsboulers baie goed geboul het.
Die span se openingskolwer John Longland het goed gekolf en ‘n stewige 77 lopies van 68 balle gemoker wat vyf viere en sewe sesse ingesluit het.
Lions se paaltjiewagter Riaan von Waltzleben het ook ‘n goeie bydrae met 25 lopies (39 b) gelewer. Franco Swart het ‘n verdere 24 lopies aangeteken in hul jaagtog na 169 wat byna windskeef verloop het namate die paaltjies met reëlmaat gekantel het.
Vir College het William Briekwa (3/30, 8bb) die beste gevaar met die rooi leerbal. Hy was goed ondersteun deur Alexander Qumza (2/20) en Glenwin Gouws (2/22, 5bb).









