Klerksdorp Rekord, Potchefstroom - Die oud-provinsiale speurhoof, brig Kiewiet van Zyl (69), het verlede week aan ‘n hartaanval gesterf.
Hy was besig om fiets te ry in Strausslaan, Vanderhoffpark op Donderdagmiddag 15 Januarie toe hy die hartaanval gekry het. Nooddienste het om 16:25 ‘n oproep ontvang en hul na die toneel gejaag, maar hy was reeds dood toe hulle daar opdaag.
Van Zyl was 42 jaar in die polisie waar hy verskeie belangrike posisies beklee het. Na sy aftrede was hy ook voorsitter van die Mooiriviertak van die Bond van Oud-Polisiebeamptes.
‘n Roudiens vind plaas op Vrydag 23 Januarie om 10:00 in die Methodiste Kerk, Potchefstroom. Hy word oorleef deur sy vrou, kinders en kleinkinders.