Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die gestewelde kat is nie net ‘n karakter in ‘n kindersprokie nie, maar verlede week ook raakgesien by Hoërskool Wesvalia se matriekafskeid.
Tarien Duminy se gemmerkat, kompleet uitgevat in ‘n aandpak, sonder die stewels, was die perfekte metgesel na haar matriekafskeid. Cosmo (die kat) het hom soos ‘n wafferse “gentleman’’ gedra, giggel Tarien toe Klerksdorp Rekord haar oor die ongewone metgesel uitvra.
Uitgevat in haar smaraggroen rok met die gemmerkat aan haar sy (op haar skouer), het sy op Vrydagaand 10 Oktober omtrent die koppe laat draai toe hulle in ‘n ‘beach buggy’ by die geselligheid opdaag. Cosmo was gaande oor die aandag.
“Ons het nogal aandag getrek, ja, hy was so cute. Hy was baie rustiger oor die hele affêre as wat ek gedink het hy gaan wees. Toe ons daar opdaag wou almal hom net kom vryf en hallo sê en hy was so rustig.’’
Tarien vertel dit het aanvanklik as ‘n grap begin dat sy Cosmo na haar matriekafskeid sou neem, aangesien haar kêrel in die buiteland werk en nie die afskeid kon bywoon nie. Haar ouers het ook nie gedink sy is ernstig nie, maar toe sy weer sien toe bestel sy ‘n aandpak vir haar “beste maat’’ by Shein en die res is geskiedenis. Hulle het tot foto’s saamgeneem.
Fotograaf Mejandra Fourie sê sy het al baie troeteldiere afgeneem maar dit is die eerste keer dat sy ‘n kat afgeneem het wat na ‘n matriekafskeid gaan. “Hy het so oulik saamgewerk. Dit is die mooiste kat, met die mooiste groen oë en het perfek by Tarien gepas.’’
Cosmo het nie die hele matriekafskeid bygewoon nie, en is saam met Tarien se sussie huis toe, toe die geselligheid begin. “Ek is glad nie spyt nie. Alles het mooi uitgewerk en dit is ‘n herinnering wat ek altyd sal koester,’’ het Tarien gesê.