Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Bekroonde jeugboekskrywer An-Mari do Carmo het haar tweede Woordveertjie gewen met haar tweede boek, Foto’s en Fairy Lights.
An-Mari woon in Klerksdorp. Sy werk as kinder- en jeugboekredakteur vir Lapa Uitgewers. Sy het as ’n tuisskoolkind op ’n plaas naby Lichtenburg grootgeword, en het elke week twaalf boeke by die dorpsbiblioteek uitgeneem én gelees.
Haar liefde vir lees het vinnig omgesit in ’n liefde vir skryf. Sy het haar graad in BA Taal en Literatuurstudie by die NWU-Potchefstroom behaal, met ’n fokus op skryfkuns. Daarna het sy vir ’n ruk in Frankryk Engels gegee.
Haar debuut, “Toe als groen was” (2022), is met die Desmond Tutu-Gerrit Brandprys vir debuutwerk sowel as ’n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. Hierdie jaar wen Foto’s en fairy lights, wat in 2024 deur Human & Rousseau uitgegee is, ook dieselfde prys in die Selflees-kategorie Graad 8 tot 9.
Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon.
Die beoordelaars is jong lesers self, iets wat hierdie toekenning van ander onderskei.
An-Mari woon saam met haar man en hondekinders in Flimieda. Sy is besig met haar derde boek.