Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Die man wat laatnag op die N12 naby Stilfontein gesterf het, is ‘n jong pa van die dorp.
Jacques Janse van Rensburg was glo onderweg van sy werk af huis toe, toe die ongeluk op die N12 naby die Kowiesirkel-ingang na Stilfontein gebeur. Dit lyk of die motor voor ‘n vragmotor beland het. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
Janse van Rensburg se familie wou nie met Klerksdorp Rekord praat nie. Sy ma het wel te kenne gegee dat hulle ontroosbaar is. In ‘n plasing op sosiale media het sy gesê hulle hou niemand verantwoordelik vir die ongeluk nie. “Niemand was daar nie, niemand weet wat gebeur het nie. Dit was ‘n tragiese ongeluk wat iemand se dood veroorsaak het,’’ het sy geskryf.
Sy het mense gevra om hulle te respekteer in die tyd van nood.
Janse van Rensburg is in September verlede jaar getroud. Hy word oorleef deur sy vrou, Bellitta en ‘n vyfjarige seuntjie. Sy vrou het ook in ‘n plasing op Facebook uitgevaar teen mense se onnodige kommentaar op die nuus van die ongeluk. “Hou op om hom te blameer. Hy is dood. My man is nie daar om homself te verdedig nie. Wat wil julle van hom hê. Dink aan sy familie voor jy snedige kommentaar lewer,’’ het sy geskryf.
Die familie was baie onststeld oor kommentaar op sosiale media wat hulle as “onnodig en ongevoelig’’ beskryf het.