Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Grace-Life Church in Buffelsdoornweg is die afgelope week onder riool.
Volgens Isaac Smit, kerk-administrateur, is ‘n hoof rioolpyp op die sypaadjie verstop. “Die rioolverstopping stoot oor in kerkgronde asook in ons hoofingang by ons ontvangs. Dit is totale chaos. Dit is al herhaaldelik aangemeld, maar nog geen uitklaring nie.”
Volgens hom is die bestuur en lidmate keelvol. Hy vertel hulle het al verskeie kere met die raadslid, Gerhard Strydom, gepraat asook die rioolafdeling by die munisipaliteit. “Ons hoor hulle het nie genoeg voertuie nie, en as daar voertuie is, is daar blykbaar nie brandstof nie. Dit kan nie so aangaan nie. Mense gaan siek word.’’
Die stank maak lidmate naar en dan moet hulle nog deur die gemors ry. “Die cul-de-sac aan die einde van Ametisstraat is totaal onder rou riool. Hierdie kan sekerlik nie aanvaarbaar wees of onbepaald so aangaan nie?”
“Ons ontvangs en parkering is heeltemal ontoeganklik,” sê hy.
Klerksdorp Rekord weet van verskeie rioollekasies in die Kosh-gebied. Inwoners is ontevrede omdat die Matlosana Munisipaliteit nie die probleme oplos nie en die besoedeling voortduur. Intussen moet raadslede bont staan as buffer tussen die gemeenskap en die munisipaliteit.