Deur Danie Jacobs
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die meeste mense vier die koms van ‘n nuwe jaar met ‘n partytjie en joligheid.
‘n Gesin van die stad het 2026 ingegaan met die klank van geweerskote in hul ore en die vrees dat die pa van die huis dalk kan sterf. Donovan Hayes se verhaal speel homself sedert Nuwejaarsdag op sosiale media af en het mense regoor die land aangegryp.
Hy is sedert die skietery op Oujaar by sy huis in Leemhuisstraat uit die hospitaal ontslaan. Klerksdorp Rekord het op Dinsdag 13 Januarie met hom en sy vrou, Claudette, gesels.
Hy erken sy herstel is wonderbaarlik. Hy lyk nie soos iemand wat minder as twee weke gelede twee keer geskiet is nie, veral nie soos iemand wat ‘n nier verloor het nie en dan het ‘n koeël ook sy lewer deurboor.
Donovan dank die Here vir sy herstel. Hy en sy gesin is kort voor middernag by die huis deur drie gewapende inbrekers oorval.
Alles het in ‘n oogwink gebeur. Hulle het pas by die huis gearriveer van vriende af. “Ek het net gedink aan my vrou en kinders se veiligheid en gedink om die drie aan te vat voor hulle my aanval. Toe is drie skote gevuur - een het ‘n muur getref en een is deur my been. Die ander een is deur my lewer en een nier.
“ Ek het in die tuin gelê en probeer bel vir hulp toe een van die inbrekers my foon vat en sy wapen op my rig. Ek kon net ‘asseblief, moenie’ uitkry en toe vlug aldrie gelukkig oor die muur,” vertel hy. Terwyl hy daar gelê het, het hy gedink hy gaan doodgaan.
Sy vrou het met hom Life Anncron Hospitaal toe gejaag. Daar gekom het hy self uit die motor geklim en toe gevoel hoe hy sy bewussyn verloor. Die portier het hom vasgehou en gesê “ek het jou”. Hy het eers weer in die intensiewe sorg eenheid wakker geword.
Donovan is sonder ‘n mediese fonds opgeneem. Op daardie oomblik was sy lewe meer belangrik as geld en hy het twee operasies ondergaan en sowat 11 pinte bloed gekry. Sy een nier is tydens een van die operasies verwyder.
Die polisie het reeds sy verklaring afgeneem, maar tot dusver is daar nog geen nuus oor die inbrekers nie. Donovan is dankbaar hy lewe en fokus nou op sy herstel.
“My familie het van oral gery om my te besoek. Tot so ver as Phalaborwa. Die boodskappe en oproepe kom ook van oral. Mense van oral het geld inbetaal by BackaBuddy - van Australië waar ek werk, asook familie en mense wat ek glad nie ken nie. Ek kan hulle nie genoeg bedank nie. Teen 13 Januarie is meer as R436 000 ingesamel.
“Ons wag nou vir rekeninge van die hospitaal, maar behoort genoeg te hê om alles te kan betaal.”
Hy het ‘n spesiale dankie aan die dokters, drs Johann Fourie en Chris van der Walt, Life Anncron Hospitaal se personeellede en veral die susters wat in die noodeenheid werk.
Wat hou die toekoms in? “Ek is ‘n gebore Klerksdorper en wil graag hier bly. Die misdaad raak net erger en as ons kon trek, sou ek. Ek het ‘n vrou en kinders en hulle veiligheid is die belangrikste.
“Ek probeer egter nog positief bly,” sê hy.
Enigeen wat nog vir Donovan wil help, kan hom skakel by 071 237 0547.










