Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Dit raak nou te gevaarlik om in jou woonbuurt te gaan stap en misdaad ruk handuit in woonbuurte soos Elandia, Songloed en Declerqville is die algemene gevoel van die gebruikers van Whatsapp-groepe in die gebiede.


“Kort-kort hoor jy hier is iemand beroof in ons buurt, of daar is mense aangehou en hulle selfone gevat. Net nou die dag was hier reg voor ons huis iemand amper beroof deur ‘n gewapende man, gelukkig kon die vrou wegkom,’’ sê Maryke van Rensburg wat in Joostestraat bly. Wat dit vir haar nog erger maak is dat dit telkens dieselfde voertuie is wat in die misdaad gebruik word. ‘n Wit VW Polo en ‘n wit NP 200 bakkie. “Ek kan nie verstaan dat hulle nie vasgetrek word nie. ‘n Video is op ons groepe versprei wat wys hoe die bakkie met een man agterop by twee vroue stop wat gestap het. Hy pluk ‘n vuurwapen uit en die vrou moet maar haar selfoon oorhandig. Dit gebeur blykbaar gereeld, hoekom word hulle nie gevang nie?’’
Lourens Cromhout, voorsitter van Klerksdorp se Buurtwagforum, is bewus van die skelms wat so gereeld op stappers en skoolkinders na skool toeslaan. Hy beskryf hulle as opportunistiese rowers. “Hierdie is ‘n landswye probleem. Armoede en werkloosheid dryf mense daartoe. Hulle weet jy loop met ‘n selfoon wat hulle kan smous vir R1000, dis hoekom hulle jou as ‘n maklike teiken sien. Dit is ‘n helse kopseer en al werk ons buurtwagte, die polisie en sekuriteitsfirmas kan ons onmoontlik altyd oral wees.’’
Gelukkig werk die buurtwag aan ‘n plan om sekuriteitskameras in woonbuurte op te rig. Cromhout is oortuig dat dit ‘n groter afskrikmiddel sal wees. “Doringkruin het meer kameras in strate en ons kan dit sien aan die misdaadsyfers, dit lyk tog of die kriminele bietjie versigtiger is daar.’’
Tot tyd en wyl is dit net te gevaarlik om iewers heen te stap. En as jy dan moet stap, moet nie met jou selfoon oop-en-bloot loop of nog erger, met oorfone loop sodat jy nog minder aandag aan jou omgewing en mense om jou gee nie. Volgens Cromhout is nog ‘n probleem dat mense graag op Whatsapp-groepe kla, maar nie self die moeite doen om die misdaad by die polisiestasie aan te meld nie. “Die polisie gaan nooit weet daar is ‘n spesifieke probleem in ‘n woonbuurt as dit nie aangemeld word nie. As jy nie self wil polisiestasie toe gaan nie, kan jy hulle kontak, hulle sal wel by jou uitkom,’’ sê hy.
Hy is dankbaar vir die sekuriteitsfirmas wat dikwels sonder vergoeding saam met die buurtwag patrolleer. “Hopelik vang ons hierdie manne gou. Maar wees maar versigtig.’’