Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Engela Pelser benodig dringend ‘n suurstofmasjien, maar sy het nie geld om een te koop nie. Sy trek net ‘n Sassa-pensioen en elke sent word omgedraai. Sy is 67 jaar oud en haar gesin vrees vir haar lewe.
Haar dogter, Chantel Hill, bly by haar ouers om na haar ma om te sien. “My ma het ‘n chroniesie longsiekte en hartversaking, Sy het ook katarakke en benodig dringend ‘n nuwe bril. Sy kan ‘n bril kry wat R2 300 kos. Haar sig het al so versleg dat sy ‘n paar sentimeter ver kan sien - korter as ‘n lineaal se lengte.
“Ons was by Tshepong Hospitaal en die dokter in Ongevalle het gesê sy moet op suurstof gaan en bevestig dat sy water op haar long en hart het. Sy is toe opgeneem en ‘n ander dokter het net die teenoorgestelde gesê. Sy bly egter siek. Sy was toe Potchefstroom Hospitaal toe. Daar is bevestig dat sy krities siek is, maar eerder by die huis moet aansterk,” sê haar dogter.
Nou soek die gesin hulp... “Sy benodig ‘n suurstofmasjien, maar jy moet sewe maande in die hospitaal deurbring om daarvoor te kwalifiseer. Sy is op ‘n lang waglys om die katarakke te laat verwyder. Ons leen tans ‘n masjien, maar die eienaar kan hom enige tyd terugvra.”
Die Pelser-gesin het hulle tot BackaBuddy gewend, maar die profiel staan nog op nul. “Ons wil mammie in ‘n private hospitaal kry, maar het nie geld vir opname, ‘n oogoperasie, toetse en behandelings nie. As sy opgeneem word, kan sy ook lank daar wees.”
Sy is oortuig as haar ma die regte behandeling kry, sy ‘n normale lewe kan lei.
Gaan na “Help Ouma Engela asemhaal en gesond word” om ‘n bydrae te maak.










