Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die Pakistani wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n tienermeisie vermoor het, is steeds agter tralies.
Ahmad Zeeshan (38) is onwettig in Suid-Afrika. Klerksdorp Rekord het verder verneem dat behalwe vir moord, nog klagtes van statutêre verkragting hom waarskynlik in die gesig sal staar. Daar is bewerings dat hy reeds van vroeg verlede jaar af in ‘n seksuele verhouding was met Desmonith (Dezzie) Cloete. Sy was toe 15 jaar oud.
Zeeshan word daarvan aangekla dat hy die jong meisie op 28 Desember in sy woonstel in Flamwood verwurg het. Haar liggaam is op die slaapkamervloer gekry nadat Zeeshan se broer die polisie van die moord ingelig het. Haar hande was agter haar rug vasgemaak en ‘n plastieksak was oor haar kop getrek. Na wat verneem word, was Zeeshan wat glo by ‘n selfoonwinkel gewerk het, reg om te vlug en was sy besittings klaar in ‘n huurmotor gelaai toe die polisie by sy blyplek opdaag.
Volgens lt kol Sam Tselenyane het hy na bewering by sy broer oor die moord gebieg en hom gevra om te help om van die liggaam ontslae te raak. “Die broer het na die polisie gegaan en hulle daarvan vertel. Hy is toe by sy woonstel in hegtenis geneem.’’
Desi, ‘n hoërskoolmeisie, was glo ‘n geruime tyd aan die Pakistani se sy opgemerk en het ook by die woonstel oorgebly. Volgens ‘n bron wat vroeër met hom in aanraking was, is sy voorgestel as ‘n onderwyseres in haar twintigerjare. “Ek het gedink sy is jonger, maar wie is ek nou om te sê. Hy is ‘n good-looking ou en baie fiks. As hy gewerk het en sy was by die woonstel, het mens skaars van haar geweet, en as hy van die werk af kom het hulle gewoonlik hand aan hand na die nuwe Checkers toe gestap. Hulle was ‘n doodgewone paartjie. Ek weet nie wat met sy kop fout gegaan het nie.’’
Dit het intussen uitgekom dat die tiener wat gewoonlik naweke by die ouer man tuisgegaan het, aan haar ouers gesê het sy kuier by ‘n vriendin. Volgens die polisie is die motief vir die moord nie bekend nie. Zeeshan het nog nie ‘n bekentenis afgelê nie. Hy het op 8 Januarie in die hof verskyn en die saak is uitgestel.
Dezzie is op Saterdag 10 Januarie begrawe. Haar ouers is ontroosbaar. Hulle wil nog nie die media te woord staan nie. Die gemeenskap het met skok gereageer op die nuus van haar dood en het verskeie nagwake gehad ter nagedagtenis aan haar.










