Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die atletiekseisoen vir 2026 het skaars begin of ‘n jong atleet van Laerskool Saamtrek is besig om naam te maak.
Ryan Beets het by die Super 12-atletiekbyeenkoms wat die afgelope naweek by Hoërskool Menlopark aangebied is, goue medaljes ingepalm in al drie die items waaraan hy deelgeneem het. Boonop het hy nuwe rekords in die items opgestel.
Ryan het die diskus, gewigstoot en spiesgooi gewen vir seuns o12. In die spiesgooi het hy veral die oë laat rek toe hy met sy eerste gooi reeds die rekord met ‘n massiewe 9m laat spat het. Sy tweede gooi was nog ‘n meter verder. Hy is aangewys as die byeenkoms se beste senior veldatleet en het die Victor Ludorum gekry.
Hekkiesatleet Rubin Essakow (o13) het die 200m hekkies gewen en ‘n derde plek in beide die 80m hekkies en 200m. Bryan King het die 60m vir seuns o9 gewen. Silwermedaljes het gegaan aan Bontle Mwale (o12) spiesgooi, Wian Oberholzer (o12) hoogspring, Liam Coetzer (o13) spiesgooi en Righardt Henning (o10) 80m en 100m. JP Ackerman (o10) het ‘n derde plek in gewigstoot gekry en Christiaan Pretorius (o12) in hoogspring.










