Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - KHS se matrieks van 1975 het hul 50 jaar reünie die afgelope naweek by die skool gehou.
Carine Hartman vertel hulle groep het baie pret gehad op Saterdag 25 Oktober. “Van die vroue het ‘n paar opskoppe gedoen met die can-can en die manne het resies gehardloop, al was dit op ‘n slakkepas.’’
Carine is die hoofsubredakteur van The Citizen en vertel sy was 45 jaar laas in Klerksdorp. Sy is verstom oor hoe die stad uitgebrei het.
“Toe ek laas daar was, was dit nog ‘n dorp en nou is dit ‘n stad. Dis net jammer oor die paaie wat erger lyk as die paaie in Johannesburg. Klerksdorp het ongelooflik baie uitgebrei. Dis net malls waar jy kyk,” vertel sy.
Vir die groep skoolvriende sal KHS altyd hul tuiste bly, al het daar heelwat op die skoolterrein verander soos die nuwe klubhuis, die astro hokkieveld, die skoolsaal en seunskoshuis. Hulle mis ook die laning Bloekombome op die skoolterrein waar daar glo baie kattekwaad aangevang is.
Daardie jaar se hoofmeisie, Minette Meyer, het die reünie bygewoon, asook Petro Esterhuyse wie se pa die bekende akteur en skrywer, Kerneels Esterhuyse was. Hy was ook ‘n onderwyser by die skool. Johan van Heerde het spesiaal vanaf Kanada ingevlieg om die funksie by te woon. Hy is ‘n sielkundige in Ottawa.










