Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die rekords het gespat by Laerskool Saamtrek se Huissportbyeenkoms.
Vrydag 16 Januarie sal lank onthou word as ’n dag waarop atletiekgeskiedenis by die skool geskryf is met drie jong atlete wat met uitsonderlike prestasies die rekordboeke herskryf het.
Die kollig was stewig op Ryan Beets wat drie rekords in die seuns o/12-afdeling laat spat het. In die gewigstoot het hy die rekord wat sedert 1997 deur P Nel gehou is, verbeter van 11,39 m na ’n indrukwekkende 13,07 m. Hy het daarna ook in die diskusgooi geskitter deur Alto Wiggett se 2024-rekord van 32,53 m verby te steek na ’n uitstekende 41,21 m. Die grootste opskudding het egter by die spiesgooi gekom, waar Ryan se fenomenale poging van 49,56 m reeds verder is as die bestaande Suid-Afrikaanse rekord vir sy ouderdomsgroep.
Nog ’n hoogtepunt van die byeenkoms was Brian King se vertoning in die 60 m vir seuns o/9. Brian het ’n 45 jaar oue rekord, wat in 1981 deur André Herbst opgestel is, verbeter. Met ’n blitsige tyd van 08,83 sekondes het hy die vorige rekord van 08,90 laat spat.
Nog ‘n mooi prestasie was Wian Oberholster se nuwe hoogspring-rekord vir seuns o/12. Met ’n sprong van 1,40 m het hy die vorige rekord van 1,39 m, wat in 2022 deur Zackery Smith opgestel is, verbeter en sy naam stewig in die rekordboeke gevestig.