Klerksdorp Rekord, Orkney - Die Noordwes Hoërskole Gholfspan het op tuisbodem by Orkney gholfbaan die SA skole-gholf interprovinsiaal titel ingepalm.
Die ander provinsies wat meegeding het, kon nie die voorsprong wat Noordwes opgebou het, inhaal nie met Boland wat tweede geëindig het en Gauteng Noord derde met KZN in die vierde plek.
Leonard Swart van KHS en lid van Orkney Gholfklub het van die begin oorheers en die individuele titel ingepalm. Die trofee lyk mooi langs die SA Hoërskole titel wat hy vroëer vanjaar in Middelburg verower het.
Hy en sy spanmaat, Stephan van Rooyen is gekies vir die SA Hoërskole span wat later vanjaar in Port Elizabeth aan die SA Universiteite week gaan deelneem.
Klerksdorp staan glad nie ‘n voet terug vir ander dorpe nie en het vier van die agt spelers in die span opgelewer. Volgens Leon Bevan, spanbestuurder, bewys dit dat Klerksdorp se skole van die beste in die provinsie is. Klerksdorpers in die span is Leonard Swart, Warrick Proudfoot, Ethan Walker en Joshua Gurshler met Bevan as een van die span se bestuurders.
Die top 2 Noordwes gholfskole, KHS en Wesvalia het ook tydens die geleentheid in skoolverband die Noordvaal skole finaal gespeel wat deur Nelspruit gewen is met Waterkloof tweede. KHS was derde en Wesvalia vierde.
Orkney Golfbaan het ‘n puik toernooi op hul spog fasiliteite aangebied, met talle gholfers wat wil terugkeer na die hoek van die provinsie om hier te kom speel, het Bevan gesê.