Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - NB-Uitgewers het die vertaalregte vir 27 van hul titels in die huidige boekjaar aan buitelandse uitgewers gelisensieer - die meeste in die uitgewery se geskiedenis.
Enkele hoogtepunte sluit die volgende in:
- Rudie van Rensburg se misdaadroman Piranha sal in Tsjeggies uitgegee word.
- Dibi Breytenbach se spannings-roman Buit sal binne die volgende twee jaar in Frans uitgegee word deur die uiters gerespekteerde Actes Sud, een van die top vyf uitgewerye in Frankryk.
- Twee van Ronelda Kamfer se titels, die digbundel grond/Santekraam asook haar debuutroman Kompoun, sal in 2026 in die VSA verskyn. Dit word uitgegee deur Archipelago Books - een van die wêreld se voorste literêre uitgewerye. Die bekroonde Kompoun is reeds in Nederlands en Frans vertaal en ’n teaterverwerking daarvan sal ook binnekort by die Suidoos-terfees te siene wees.
- Irma Venter se misdaadroman Skarlaken word ook in die VSA (deur Catalyst Press) uitgegee. Haar eerste twee romans was voorheen in die VSA versprei deur Amazon Crossing, maar hierdie is die eerste keer dat ’n boek van haar ook in boekwinkels regoor die land beskikbaar sal wees.
- Die topverkoper I am Ella deur Joanne Jowell sal in beide Tsjeggies en Pools uitgegee word.
- Ingrid Winterbach se roman Karolina Ferreira word in Bulgaars uitgegee.
- Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika deur Hermann Giliomee, Bernard Mbenga en Bill Nasson, asook die kinderboek The Boy and the Poacher’s Moon deur Pamela Newham, sal in China uitgegee word.
“Hierdie wonderlike mylpaal getuig weereens dat NB-Uitgewers deurlopend literatuur van internasionale gehalte publiseer.
“Ons is dankbaar vir die fantastiese skrywers wat ons die voorreg het om uit te gee, die bekwaamheid en toegewydheid van ons Kontrakte en Regte-span en die goeie samewerking met ons internasionale kontakte wat oor dekades se bywoning van die Frankfurtse boekebeurs opgebou is,” sê Eloise Wessels, uitvoerende hoof van NB-Uitgewers.