Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Waar is die onderwysers? En waar is die geld heen?! Dit is in die middel van die skooljaar en daar is steeds meer as 29 000 vakante onderwysposte in openbare skole in Suid-Afrika. Hierdie poste moes reeds aan die begin van die skooljaar in Januarie gevul gewees het, aldus Fedsas.
“Hier speel ’n nasionale ramp voor ons oë af. Daar is begroot vir hierdie poste en die geld is lankal reeds aan provinsiale onderwysdepartemente oorbetaal,” sê dr Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
Die organisasie het ook verlede maand uitgewys dat net drie van die nege provinsies die wetlik verpligte oordragbetalings aan skole voor die sperdatum van 15 Mei gemaak het.
“Provinsiale onderwysdepartemente het dus twee enorme bedrae geld ontvang - miljoene rande vir vakante poste en nóg miljoene rande vir oordragbetalings. Hierdie geld mag vir geen ander doel aangewend word nie, maar in die meeste gevalle is daar nie aanstellings gemaak nie en die oordragbetalings is ook nie gedoen nie. Wat ook al provinsiale onderwysdepartemente met die geld doen, is onregmatig. In wese steel hierdie amptenare by kinders!”
Deacon sê 15% van openbare skole het nie permanente skoolhoofde nie.
“Die Wes-Kaap vaar die slegste. Meer as ’n kwart van skole in die provinsie het waarnemende skoolhoofde. Boonop is meer as 40% van adjunkhoofposte in die Wes-Kaap ook vakant. ’n Mens kan met redelike sekerheid aanvaar dat daar in die Wes-Kaap skole is sonder enige permanente leierskap.”
In Noordwes is daar 2 487 vakante poste en 1 436 vakante poste vir skoolhoofde en adjunkhoofde.
In sowel die Oos-Kaap as KwaZulu-Natal is daar meer as 5 000 vakante poste, en in Gauteng meer as 4000. In agt van die nege provinsies is meer as 5% van die beskikbare poste vakant. In die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap is dit meer as 10%. In die Noord-Kaap is meer as 16% van die beskikbaar poste nog nie gevul.
“Die tesourie het alle betalingsfunksies in hierdie provinsie oorgeneem. Die onderwysdepartement is wel besig om agterstallige betalings te doen, maar gebruik nou vanjaar se geld vir verlede jaar se betalings.”
Die uitsondering is die Vrystaat, waar slegs 217 poste vakant is. Die Vrystaatse onder-wysdepartement het ook die oordragbeta-lings aan skole voor die sperdatum gemaak.
Deacon sê buiten dat KwaZulu-Natal nog geen oordragbetalings gemaak het nie én derduisende vakante onderwysposte het, het die provinsiale onderwysdepartement ook geruime tyd versuim om sommige diensverskaffers van die skoolvoedingsprogram te betaal, wat meebring dat duisende kinders nie ’n enkele maaltyd ontvang nie.
“Om dit so duidelik as moontlik te stel: In KwaZulu-Natal is daar duisende honger kinders in klaskamers sonder onderwysers in skole wat nie geld het om water en elektrisiteit te betaal nie. Dit is ’n growwe skending van kinders se grondwetlike regte.”
FEDSAS doen opnuut ’n dringende beroep op die Minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om in te gryp.
“Daar is tans geen onderneming deur enige provinsiale onderwysdepartement, behalwe die Wes-Kaap, om vakante poste op pos-vlak 1 te adverteer nie. FEDSAS versoek die Minister Gwarube om onmiddellik op te tree sodat alle poste op deursigtige wyse geadverteer word om die verkoop van poste te verhoed.”
“Provinsiale onderwysdepartemente tree vir jare al onverantwoordelik en dikwels onregmatig op maar word op geen manier verantwoordbaar gehou nie. Dit lyk of die stert die hond swaai.”