STELLALANDER-VRYBURG: ‘n Plaaslike raadslid is onlangs genader deur inwoners van Frenchstraat wat desperaat hulp vra oor twee verwaarloosde, leegstaande erwe teenoor mekaar, nommer 30 en 32 (voorheen 31 en 34), wat groot gesondheids- en veiligheidsprobleme veroorsaak.
Volgens ’n inwoner wat in die omgewing woon, het die erwe oorlaai geraak met rommel en onkruid wat onhigiëniese toestande skep en ’n toevlug bied vir potensiële misdadigers. “Ons is net vrouens hier en voel onseker. Die toestand raak al hoe meer problematies,” sê sy. Die vrou het die probleem op 23 April 2025 aan die aangemeld met foto’s om die situasie te illustreer. Die Raadslid het die klagte by die waarnemende direkteur van die munisipaliteit aangemeld en gesê: “Kom ons wag en sien wat gebeur. Dan neem ek dit verder.” Tot dusver is daar egter geen terugvoering van die munisipaliteit ontvang nie, en is dit verder bekend dat hulle nie oor die nodige toerusting beskik om die erwe skoon te maak nie. Volgens die raadslid kan die munisipaliteit wel optree teen die eienaars van die erwe, aangesien hulle waarskynlik in besit is van die nodige kontakbesonderhede. Die situasie het egter ’n gevaarlike wending geneem toe die veld op die erwe herhaaldelik aan die brand gesteek is, met ernstige gevolge en groot vrees onder die inwoners. Gelukkig was die brandweer betyds ter plaatse om die vuur te blus. “Noudat die munisipaliteit nie kan help nie, raak ons almal bekommerd oor die veiligheid en welstand van die gemeenskap,” sê die vrou, ’n besorgde inwoner van Frenchstraat. Die inwoners vra dat die munisipaliteit dringend optree om die eienaars aanspreeklik te hou en die gesondheid en veiligheid van die buurt te verseker.