STELLALANDER-BRAY: Die klein grensdorpie Bray, het die afgelope week bewys dat gemeenskapsamewerking wondere kan verrig.
Toe inwoners besef dat die dorp teen die Botswana-grens stadig agteruitgaan, het kerke, rade en ander rolspelers in die gemeenskap besluit om die saak in eie-hande te neem. Binne 24-uur is ‘n beplanningsvergadering gehou en binne net tien dae was die sogenaamde “Bray Clean Up”-projek gereed om geloods te word. Die opgewondenheid was tasbaar, en teen Woensdag, 20 Augustus 2025, het inwoners van Bray, omliggende plase en selfs bure uit Botswana opgedaag om deel te neem. Reeds van 08:30 is daar met grawe, sae en vullissakke aan die werk gespring. Die amptelike opening om 09:00 het begin met spontane gesang en dankliedere, ’n emosionele oomblik vir almal teenwoordig. Van daar af het die werk regtig momentum gekry, van papiere optel en rommel verwyder, tot spit en snoei. Selfs die kleuterskoolkinders het gehelp deur die strate voor hul skool skoon te maak en papiere op te tel. Teen laatmiddag, ná ure se harde werk wat tot 16:00 geduur het, het Bray skoon en vars gelyk, “soos ‘n splinternuwe sikspens,” het een inwoner trots gesê. Die boodskap uit die dag was duidelik: Saam kan ‘n gemeenskap ‘n verskil maak.