Stellalander-Stella: Marthine Swanepoel, ’n graad 11-leerder van Hoërskool Stella, het geskiedenis gemaak toe sy vir ’n derde keer in haar skoolloopbaan deurgedring het na die ATKV-redenaarskompetisie se landsfinaal.
Marthine het die eerste plek in die Noordwes-provinsiale rondte in die Onvoorbereide afdeling vir Graad 10 tot 12-leerders behaal en sal Hoërskool Stella en die provinsie verteenwoordig tydens die landsfinaal wat op 5 Augustus 2025 by Goudini Spa plaasvind. Tydens die semi-finale het sy met insig en selfvertroue gepraat oor die onderwerp: “Die Bela-wet is nie die einde van Afrikaanse skole nie.” Hierdie prestasie is nie net ’n persoonlike triomf vir Marthine nie, maar ook ’n bewys van die kwaliteit van redenaarsontwikkeling aan Hoërskool Stella. Die skool en gemeenskap is trots op haar volgehoue sukses en sien uit daarna om haar weer op die nasionale verhoog te sien uitblink.