STELLALANDER-HARTSWATER: Hartswater Toyota het op Donderdag, 24 Oktober, ’n Toyota Knights-fondsinsameling aangebied met die doel om fondse vir ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie in te samel.
Die gesogte geleentheid is in samewerking met Rocket Air Ambulance gehou, wat saam met Hartswater Toyota hande gevat het om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Craig van Rensburg, Nasionale Verkoopsbestuurder van Rocket Air, en Hendrik Louw, Hoof Uitvoerende Beampte van Rocket Air, was aktief betrokke by die beplanning en uitvoering van die dag se program. Annelie Lerm, Streeksbestuurder van Toyota en Ben De Swardt, die Handelaars Hoof van CFAO Mobility Toyota Hartswater, het saam met die organiseerders sorg gedra dat die fondsinsameling nie net suksesvol was nie, maar ook ’n dag vol samewerking en gemeenskapsgees was.
Volgens De Swardt en die organiseerders het die deelname van uitstallers ’n groot rol gespeel in die sukses van die dag.
“Sonder hulle sou die fondsinsameling nie moontlik gewees het nie en hulle het die dag werklik spesiaal gemaak,” het De Swardt gesê. Hartswater Toyota bedank almal wat bygedra het tot die sukses van die Toyota Knights-fondsinsameling en sien daarna uit om voort te gaan om die gemeenskap deur sulke inisiatiewe te ondersteun.









