STELLALANDER-VRYBURG: ‘n Reuse Biltong Groei Koning Karkaskompetisie het op Saterdag, 31 Mei 2025 ten einde geloop het toe die wenners by ‘n funksie op Kuruman aangewys is.
Voor die aanvang van die kompetisie, is al die karkasse reeds verkoop aan slaghuise oor die land wat dit aankoop vir die maak van biltong.
Rianes de Klerk, bestuurder van die abattoir wat ook opgetree het as die beoordelaar, gesels lekker oor die kompetsie. “Elke plaas het maar een of twee vet koeie wat verby haar produksiedtyd is. Hierdie diere is nie meer veel werd vir die produsent nie, maar die biltongmakers soek graag na daardie lekker geelvet beesvleis om biltong mee te maak.” Sowat vyf jaar gelede het hulle begin om ‘n Biltong Groei Karkaskompetisie te loods waar lekker vet beeste ingeskryf word. “Die karkas wat die beste Suid-Afrikaanse biltong standaard het met ‘n stewige stukkie geelvet aan, word as die wenkarkas uitgesonder.” Die kompetisie gaan van krag tot krag. Vanjaar het 413 deelnemers ingeskryf en daar moes uit 609 beeste gekies word om die beste karkas te kon kry. Die kriteria vir die beoordeling van die biltongkarkasse is nie dieselfde is as die Samic kriteria nie aangesien daar vir hierdie kompetisie oorwegend na die vetkomponent op die karkas gekyk word. “Hoe geler die vet, hoe beter die biltong.” Twee telers uit die Vryburg distrik het uiteindelik as wenners uit die stryd getree. Willem Scholtz van die Scholtz Brangus Boerdery by Louwna naby Vryburg, het vyf beeste ingeskryf vir die kompetsie en al vyf hierdie karkasse was onder die finaliste in die kompetisie. Hierdie boerdery het skoonskip gemaak in die kompetisie deurdat die Goue Biltong Groei Koning uit die boerdery was. Die Groep Biltongkarkas wenners is ook gelewer deur Scholtz Brangus Boerdery. Wat meer is, is dat hulle ook die wenner van 2024 opgelewer het. Willie de Jager van Doornhaag in die Vryburg distrik het die Silwer(tweede) sowel as die Brons(derde) wenners opgelewer asook die Reserwe Groep Biltongkarkasse tydens die skou. Vir meer inligting oor hierdie kompetisie, kontak Rianes de Klerk by 083 285 1910. Luister na RSG Landbou en hou Veeplaas tydskrif dop vir meer inligting oor hierdie kompetisie. (Koos du Pisanie - Plaas Media)