BRITS POS – BRITS – Vir die eerste keer in die geskiedenis van Brits, was daar Maandag, 1 September, ‘n kleuter blokfluit-ensemble wat aan die Afrikaanse Kunswedstrydvereniging van Brits se instrumentale-afdeling deelgeneem het.
Dié kleutergroep is van Laerskool Brits se Britsie Klitsies Kleuterskool. Hulle het onder leiding van Elsabé Erasmus, die nuwe seisoen sommer al fluitende ingegaan, hulself knap van hul taak gekwyt en ‘n allemintige A-simbool (84%) verwerf.
DIE HOËRSKOOL WAGPOS - O.14’s wen Noordvaal Rugbybeker
Die o.14-rugbyspan van Die Hoërskool Wagpos het die afgelope naweek gewys hulle het staal in hul pype toe hulle in die eindstryd van die Noordvaal Beker, teen Leeuwenhof Akademie (afdeling 2 Bowl) as algehele wenners geseëvier het. Met goeie spanwerk, deursettingsvermoë en harde werk het Wagpos hulle teenstaanders oorheers en met ‘n telling van 25-5 die Noordvaal Rugbybeker hoog gelig.
Rugbyspelers veg vir Noordvaal-beker
BRITS POS – BRITS – Na ‘n seisoen van harde werk op die rugbyveld is die o.14-span van Die Hoërskool Wagpos oorgehaal om die Noordvaal-beker dié naweek, in die eindstryd teen Leeuwenhof Akademie, op die velde van Midstream College, Olifantsfontein, te verower. Die Hoërskool Wagpos het dié Noordvaal Beker-liga op ‘n hoë noot begin met drie spanne in die kwalifiserende rondte, wat ook na die kwarteind-finaal deurgedring het: o.14 wen Frikkie Meyer 15-7, o.16 wen Ben Viljoen 27-19 en die eerste span wen Hans Strijdom 38-34.
Britsies in Ernie Els-toernooi
Laerskool Brits se gholfspan, Ruvan Bosch, Merton Jacobs, Johan Steyn (bestuurder), MJ Steyn en Handre Bosch, het die voorreg gehad om die skool en Noordwes by die Nasionale Ernie Els gholf-toernooi te verteenwoordig. Die toernooi het by Rondebosch Gholfklub, in Kaapstad, plaasgevind en 14 top gholfskole in die land het hieraan deelgeneem.
C2U BOSVELD MTB CHALLENGE - Kettings knars en bene hou
BRITS POS – BRITS - Die Hervormde Gemeente Hartebeestpoort het verlede Saterdag die spreekwoordelike haas uit die hoed getrek en ’n uiters suksesvolle fietswedren, die C2U Bosveld MTB Challenge by die Brits Vliegklub in Rashoop aangebied.
Cycling South Africa (CSA) het dit as ‘n gruispad-wedren geklassifiseer en die roete het ook die sanderige Dikholo-pad ingesluit en ’n paar spruitdeurgange langs die kanaalroete.








