GEMSBOK-VAN ZYLSRUS: Die idee om ‘n kunsweek op Van Zylsrus, in die Noord-Kaap, die eerste in sy soort, moontlik van 7 - 9 Oktober 2025, tydens die skool-vakansie ‘n werklikheid te maak, is Pieter Pienaar se idee.
Die idee het hom beetgepak toe hy sy broer en skoonsuter se oornagplasie in April vir 10 dae bestuur het. Pieter is ‘n afgetrede kunsonderwyser en is ook ‘n stigterslid van die kunste-gebaseerde onderneming, Bridge Co-Creatives, wat hy saam met ‘n kunskollega, Carol Preston, bedryf. Een van die oogmerke van Bridge Co-Creatives is o.a. om deur ‘samewerkende’ kunsaktiwiteite mense die kleurvolle geleentheid te bied om weer opnuut met verwondering en respek na hulself en ander in groepsverband te kyk.
Intussen het On the Beat Communications, onder leiding van Balfour Lek-gwathi ook aangedui dat hul onderneem om deel te wees van die werksaamhede van die week; hulle ondersteun sosiale kwessies wat hulle op panele uitbeeld.
Die kunsweek op Van Zylsrus is egter ‘n gebeurtenis wat die grense van Bridge Co-Creatives se tipiese werkswinkel-aanbie-dingsmetode verskuif; dit sal in der daad samewerking op vele vlakke verg en die gemeenskapleiers op Van Zylrus is gretig om deel te wees daarvan.
Op hierdie stadium is Pieter en Carol besig om naarstiglik voelers uit te steek en hulle praat met vele rolspelers in die kunsgemeenskap oor hoe om hierdie kunsweek ‘n werklikheid en ‘n sukses te maak, wat dalk volgende jaar, D.V., weer aangepak kan word (wat die wens van die Van Zylsrus-gemeenskap is).
Hierdie kunsweek het ‘n paar oogmerke:
Eerstens, wil ons graag die mense wat van Kalahari-avontuur en kuns hou, die geleentheid bied om vir 3 tot 4 dae ons platteland te kom bevolk; ons wil voete hier kry. Hulle betaal vir hulle verblyf by die hotel, by die gastehuise of by die omliggende boere op hulle plase. Dit is dan ‘n ook ‘n ideale geleentheid vir die plaaslike gemeenskap om hul unieke aktiwiteite, kos en natuurskoon te bemark.
Tweedens wil ons ook ‘n mini-kunsskool beskikbaar stel vir die plaaslike en ver-mense wat nog altyd wou leer om te teken of te verf, bv. om vir 3 dae sorgeloos daardie droom te kom bewaarheid en vir die kunskursus of -kursusse van hul keuse te betaal. Die kursusgelde wat betaalbaar sal wees, sal die gesoute kunsdosente se reis en verblyf betaal. Intussen het ‘n weldoener ‘n huis in die omgewing beskikbaar gestel waar die besoekende kunslektore gratis kan oornag tydens die week.
Derdens wil ons kunstenaars, fotograwe, musikante en ander kreatiewe mense nooi om te kom skilder, foto’s te neem en musiek te maak in die Kalahari. (Hulle betaal nie vir die kunskursus nie, hulle vaar die strate en duine in en doen hul kuns op hul manier.) Daar is byvoorbeeld baie mense met die beste kameras wat dit nooit kan gebruik nie, want dit is nie veilig waar hulle beweeg nie; in die Kalahari is dit heelwat veiliger en die stilte kan jou metgesel wees, sou jy dit verkies. Vierdens wil ons ook gratis groepkuns-aktiwiteite by die gemeenskapsaal doen. By hierdie geleenthede kan die TikTokkers en die mense met kanale heerlik baljaar en die pret die internetruimtes in stuur.
Vyfdens het ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse landkunstenaar en haar span aangedui dat hulle kosteloos aan die kunsweek wil deelneem en dat hulle ‘n landmerk en staproete gaan skep – met die hulp van die gemeenskap – om die beskerming van die aasvoëls te ondersteun. Van Zylsrus is natuurlik ‘n aasvoëlbewa-ringsgebied.
Natuurlik kan ‘n mens liries raak oor alles en nog vat, maar op hierdie stadium moet daar bepaal word hoeveel mense sou belangstel sodat ons die besoekende kunsdosente kan bekostig. Die afstande en die brandstofpryse laat ons almal twee keer dink voor ons die kop knik om in te stem.
Bridge Co-Creatives en die Van Zylsrus gemeenskap behoort teen die einde van Julie 2025 te weet of die kunsskool-idee wel vrugte kan afwerp; daar moet ten minste 50 mense inskryf. Daar is nog baie dinkwerk voor. Alle belangstellendes en mense met idees is welkom om Pieter te kontak per e-pos:
Let asseblief daarop dat hierdie nie ‘n ‘tradisionele’ kunstefees is nie, dit is ‘n kunsweek waar die klem gaan val op die maak van kuns en die voorreg om in groepsverband ook aan iets mooi gestalte te gee; kom om deel te neem en keer vol inspirasie huiswaarts.
Enige partye wat dalk donasies wil maak of enige aspek van die kunsweek wil borg is ook welkom om ons te kontak. (As daar dalk iemand is wat ‘n barista-kursus tydens hierdie 3 dae kan kom aanbied, maak kontak asseblief; lekker koffie en kuns kan heerlik hande vat.)