Senior graad-leerders van Franciscus I/S wat goed presteer het, is agter van links, Ramoney Steenkamp, Amy Strauss, Gregory Maclyn, Dominique Louw en Lawnicka Swartz. Voor van links verskyn, Lucenchia Vos, Gianeldro Isaacs, Monique Olifant, Len-Jade Engelbrecht, Lee-André Swart en Jada Seekoei.
Franciscus se trots
Veels geluk aan al die leerders van die Intermediêre Skool Franciscus wat vanjaar so pragtig presteer het. Lawnicka Swartz (14), 'n graad agt-leerling, is dié skool se toppresteerder vir die skooljaar 2025. Hierdie slimkoppie het uitgeblink in Wiskunde, Afrikaans huistaal, Engels, Natuurwetenskappe, Ekonomiese Bestuurs- wetenskappe en Lewensoriëntering. Franciscus is baie trots op haar en wens haar groot sukses toe op haar hoërskoolloopbaan wat volgende jaar in aanvang sal neem. * Foto: Nick Pretorius
Kuruman-innoveerder verander passie vir elektronika in sukses by die 45ste Eskom Expo ISF
GEMSBOK-KURUMAN: Kalafo Matsebe van Dibotswa Hoërskool in die Dithakong-dorp in Kuruman het bewys dat vasberadenheid en talent selfs die eenvoudigste idees in oomblikke van grootsheid kan omskep.
Matsebe se merkwaardige prestasie by die 45ste Eskom Expo Internasionale Wetenskapskou (ISF) het hom erkenning besorg as een van die Noord-Kaap se mees belowende jong innoveerders.
Die jaarlikse Eskom Expo ISF, wat vanjaar van 6 tot 10 Oktober by die Emperors Palace-konferensiesentrum in Kempton Park gehou is, het honderde top jong wetenskaplikes van Suid-Afrika en regoor die wêreld bymekaargebring. Leerders het baanbrekersnavorsing en vindingryke projekte oor ‘n wye reeks wetenskap-, tegnologie-, ingenieurswese-, wiskunde- en innovasie (STEMI)-velde ten toon gestel.
Robotika word wyd aangebied
GEMSBOK-UPINGTON: Siyafunda Education Foundation het weer eens bewys dat geen taak te groot is en geen skool buite hul bereik is nie.
Hierdie organisasie het verlede jaar met ‘n derde groep afgeleë skole begin werk waar opleiding in robotika die hoof prioriteit is. Die projek, genaamd South32 Robotics Academies, groei egter dinamies en selfs ‘n entiteit soos Epiroc het ook aan boord gekom.
Heine Kulsen en Felix Spies is al van 2019 af besig met opleiding in robotika en teiken juis hierdie ver afgeleë skole waar min tot geen soms hul verskyning wil maak. Ons het in hierdie tyd besef dat kinders presies dieselfde reageer teenoor nuwe leermateriaal ongeag hul lewensomstandighede. Dis waar Heine en Felix ‘n baie belangrike rol speel. Opleiding word aan onderwysers weekliks aangebied deur mnr .Kulsen en een keer ‘n maand word skole besoek.
Interaktiewe teaterproduksie by Oasis opgevoer
Vier lede van Storywood Inclusive Arts het verlede week hul interaktiewe teaterproduksie, “Die droë Tuin,” by Oasis Vaardigheidsentrum opgevoer. Die vier dames het die groepe met hul beweging, sang en voorlesings betower. Met gefokuste spel wat inmekaar vloei en met behulp van verskillende hulpmiddels, is droogte, reën en groei voorgestel.
Dit was Storywood Inclusive Arts se eerste besoek aan die Noord-Kaap. Hulle het al 82 vertonings in die Kaap gedoen en wil graag Namakwaland besoek. Op die foto word ‘n sprokiestuin aan die kinders voorgestel.








