Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

School News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Edwina Solomons, ‘n kind van Rosedale, Upington, is onlangs deur die Afrikaanse Taalraad aangewys as die Beste Onderwyser vir 2025. 
Edwina sê hierdie toekenning was baie meer as ’n prestasie; dit was ’n erkenning vir elke leerder wat haar ooit vertrou het, elke ouer wat haar ondersteun het, en elke onderwyser uit haar verlede, wat in haar geglo het.
Vir Edwina Solomons is hierdie toekenning ‘n groot eer.
Sy skryf: “Ek is in Upington, in die gemeenskap van Rosedale, grootgemaak. ’n Plek waar warmte, gemeenskap en vasbyt diep in mense se DNA ingewortel is. Rosedale is waar ek geleer het wat dit beteken om deur mense omring te word wat jou dra, ondersteun en saam met jou hoop.


 My ma, Deborah Solomons en oorlede pa, Priester Eddie Solomons het my grootgemaak met waardes en nederigheid. My opvoedkundige reis het begin by Laerskool Rosendal, waar my liefde vir Afrikaans, stories en leer die eerste keer wortel geskiet het. Dit is daar waar ek ontdek het dat taal ’n ruimte skep waarin kinders hulself kan vind.
 Na laerskool het my pad my na Hoërskool Saul Damon gelei, ’n skool waar onderwysers soos mev. Charlotte Matthys my nie net akademies geleer het nie, maar ook my selfvertroue versterk het en my geleer het om altyd ’n bietjie groter as my omstandighede te droom.
Toe ek uiteindelik die waagmoed gehad het en Johannesburg toe getrek het om aan die Universiteit van Johannesburg te studeer, was dit nie net ’n akademiese stap nie, dit was ’n bewys dat iemand uit ’n klein gemeenskap ook groot kan droom. 
By UJ het my wêreld groter geword: ek het my graad voltooi, kritiese akademiese vaardighede ontwikkel en geleer hoe divers ons land werklik is. Ná my voorgraadse opleiding met spesialisering in Afrikaans, het ek ook my NQF 8-kwalifikasie aan dieselfde universiteit voltooi. Hierdie kwalifikasie het my akademies verdiep en my passie vir inklusiewe onderwys versterk. 
Vandag is ek trots om te sê dat ek pas met my Meestersgraad in Inklusiewe Onderwys begin het. ’n Program wat nie net my kennis uitbrei nie, maar my hart nog dieper in my roeping inlei.
As onderwyser by Crawford International Sandton College werk ek elke dag met verskillende studente, en dit herinner my aan die belang van inklusiwiteit. 
Ek streef daarna om Afrikaans nie net ’n vak te maak wat geleer word nie, maar ’n taal wat gevoel, beleef en geniet word. 
Om dit reg te kry, maak ek gebruik van dinamiese, leerder- gesentreerde metodes: ek gebruik liedjies om grammatika te verduidelik, Kahoot-speletjies om leer pret te maak, tegnologie om visuele ondersteuning te bied, en kreatiewe aktiwiteite om kritiese denke aan te moedig. My doel is eenvoudig, dat elke kind, ongeag hul vermoë, taalvaardigheid of leerstyl, ’n eerlike kans kry om te verstaan, deel te neem en te glo dat daar ‘n plek vir hulle in die taal is.
My loopbaan het ook buite die klaskamer begin momentum kry. Ek was al op radiostasies soos RSG en 5FM, waar ek oor taal, onderwys en my werk gesels het. Hierdie ervarings het my geleer dat die onderwyser se stem ook in die media nodig is, veral in ’n land waar taalontwikkeling en geletterdheid nie na wense is nie. 
Ek het ook artikels geskryf vir Rapport en Netwerk24, en met elke stuk probeer ek Afrikaans se veelsydigheid en kulturele rykdom uitlig. Verder het ek geskryf vir Klyntji.com, wat my toegelaat het om kreatief te dink oor identiteit, taal, kultuur en die landskap van Afrikaanse jeugkultuur.
My liefde vir taal en skryfwerk het my ook vroeër in my loopbaan die eerste plek in die Beeld digkompetisie besorg, ’n mylpaal wat my laat besef het dat kreatiewe skryf ’n deel van my siel is. 
Al hierdie dinge, die dorp waar ek grootgeword het, die universiteit waar ek gevorm is, die skool waar ek dien, en die platforms wat my ’n stem gee, kom saam in een groter waarheid: my verhaal behoort nie net aan my nie. 
Dit is ’n bewys dat talent nie ’n adres het nie, dat drome nie ’n poskode nodig het nie, en dat ’n kind uit Rosedale ook sy plek in die wêreld kan inneem.”