Die Hoërskool Martin Oosthuizen se Zander Oberholster en Liza-Marie van Rooyen het onlangs in Kaapstad by KunsteKaap aan die nasionale Prosenium dramakompetisie deelgeneem.
Hulle is gekies uit ‘n aanvanklike groep van meer as 600-deelnemers.
Die top 60 het toe aan die finaal gaan deelneem.
Zander wen toe ‘n rol in ‘n WKOD produksie wat in 2025 by ondermeer die KKNK, Suidoosterfees en die Woordfees gaan optree.
Drie NK-skole is nasionale finaliste
GEMSBOK-UPINGTON: Drie skool-spanne in die Noord-Kaap, naamlik die Blou Bulle van Hoërskool Carlton van Heerden, Trio WR – Hoërskool Paballelo en River Rangers van St Anna Privaatskool (Springbok), is nasionale finaliste in vanjaar se #SAClimate Change Champs Green Opportunities Challenge .
Hierdie kompetisie was oop vir jeugdiges in graad 9 – 12 wat deel is van Climate Club gasheerskole regoor die Oos-, Noord- en Wes-Kaap. Die finaliste is gekies uit meer as 40 jeuggroepe wat vir die kompetisie ingeskryf het en ‘n voorstel aangebied het oor die krag van hul gemeenskap deur ‘n regverdige en veerkragtige oorgang na ‘n groen ekonomie. Projekte is oor sleutelsektore vir groen ekonomie aangebied.
Klasse om Nluu te red
GEMSBOK-UPINGTON: In ‘n poging om die uitsterwing van die pragtige San-taal - N|uu - te voorkom, om die kontinuïteit daarvan te verseker en om in al sy rykdom te laat herleef het 7 Mei 2024 die begin van ‘n reeks N|uu-taalklasse geoormerk.
Die klasse sal op Dinsdae, Donderdae en Saterdae gratis, vir baie kinders uit die !Khomani- gemeenskap wat in Upington woonagtig is, aangebied word.
Die begin van hierdie klasse word as ‘n baie spesiale oomblik in die geskiedenis, van die hoogs bedreigde tradisionele N|uu-taal, wat deur die !Khomani- gemeenskap in die Noord-Kaap gepraat moet word, geag.
Die kinders sal ‘n unieke geleentheid kry om direk te leer by Dr. Ouma Katrina Esau, die enigste oorlewende (vlot) spreker van die N|uu-taal, wat ruimhartig aangebied het om hierdie klasse vir ‘n hele jaar te onderrig.
Mnr. en Mej. Upington Kampus aangewys
NCR TVET College se Upington Kampus het tydens ‘n glansgeleentheid op 30 April Mnr. en Mej. Upington Kampus aangewys. Rose Shuping (18 jaar) is as mej. Upington Kampus aangewys.
Sy is van Kuruman afkomstig en studeer tans Elektriese Infrastruktuur Konstruksie Vlak 2 by die Kampus. Haar kop staan modelwêreld toe en sy sien ook uit om aan meer skoonheidskompetisies deel te neem. Sy is nes mnr. Upington Kampus, Salani Madadzhe, ‘n eerstejaar student by Upington Kampus. Salani is 17 jaar oud en oorspronklik van Venda, maar is nou woonagtig in Upington. Hy studeer ook Elektriese Infrastruktuur Konstruksie vlak 2. Salani staan hier met sy “intonga” wat hy in die plek van ‘n kroon ontvang het. Dit is ‘n knopkierie wat nou sy status aandui.
Wat gaan ek eendag word?
Die klassie van die !Omama Inheemse Nama Kultuurskool het na Werkersdag ‘n Beroepsi-nligtingsdag gehou. Die hoof, Maggie Aly sê sy het vir die kinders gevra om aan te trek volgens die beroep wat hulle eendag wil word. Sy het toe die verskillende beroepe verduidelik .
‘n Mens moet droom en doelwitte stel. Al is hulle so klein, het hulle al gekies wat hul eendag wil word. Ons sien ‘n dosent, ‘n dokter, ‘n pastoor en ‘n haarkapster. Van links is: Romano Joodt (prokureur), Semonick Filter, Alysha Strauss (juffrou), Zayden Armoldus (skoolhoof), Kiarah Jason (onderwyser), Ismail Sedumi (predikant) en Khira Koopman (haarkapster)