Kakamas United het goed begin en in die openingsminute die meerderheid balbesit gehad, maar op die teenaanval het hulle twee glorieryke geleenthede verspeel.
United was baas oor die middelveld en het in die 16de minuut die bal in die net gesit
Stadig het Olympics hulself teruggeklou in die wedstryd en hulle verdediging het United op ‘n goeie afstand gehou.
Rustydtelling was 1-0 in United se guns.
Ná rustyd en die bekendstelling van ’n paar vars bene - het Olympics meer druk op die United-verdediging begin plaas, veral met Stir wat met ’n pas teen Olympics se regterflank afgedribbel het.
Olympics het met meer selfvertroue gespeel en in die 9de minuut - van die tweede helfte - alles een gemaak, na nog ‘n gevaarlike lopie en goed oorweegde kruisskop van Stir, waar Zavas perfek geposisioneer was - om dit agter in die net te sit.
In die 17de min van die tweede helfte, is ‘n perfek uitgevoerde vryskop deur Kool, deur sy broer, Jomo, uitstekend huis toe gestuur om dit 2-1 te maak
Olympics het gedreig om meer aan te teken en die doelwagter moes ‘n uitstekende eenhandsredding maak om Zavas sy skof te ontsê en moes minute later nog ‘n goed geplaasde kopskop deur Jomo red.
United se taktiek het verander van netjiese tussenpas na lang balle en Olympics het dit gemaklik hanteer.
Die eindtelling was 2-1.