GEMSBOK-UPINGTON: Op Maandagmiddag, 12 Januarie 2026 na 14:00 het lede van die ANC Jeugliga ‘n memorandum aan die eienaar van Oranjerus River Resort, mnr. Jean Lambrechts, oorhandig na aanleiding van die beweerde aanranding op ‘n vroulike werknemer wat tydens die oord se Oujaarsdans gebeur het.
Die oorhandiging het voor die Red Ox Restaurant op Upington plaasgevind en is bygewoon deur onder andere werknemers van Oranjerus, ‘n groep ontevrede inwoners van die dorp, lede van die ANC Jeugliga en die speaker en burgemeester van ZFM Distriksmunisipaliteit.
Lambrechts het die memorandum vanaf ‘n verteenwoordiger van die Jeugliga ontvang en hy is aan die woord gestel.
Mnr. Lambrechts het genoem dat hy sy volle samewerking sal gee tydens die SAPD se ondersoek. Hy keer glad nie die beweeerde insident goed nie. “Die persoon wat by die insident betrokke was, was nie die dag aan diens nie en het die oord in sy vrye tyd bygewoon. Hy is reeds afgedank”.
Volgens mnr Lambrechts het die bestuurder van Oranjerus nie sy instruksies ten opsigte van die Oujaarsdans nagekom nie. Hy is tydelik ontslaan, sy verhoor is Donderdag, 15 Januarie, en die persoon sal afgedank word indien hy skuldig bevind word.
Daarna het ‘n verteenwoordiger van die ANC Jeugliga die memorandum met sekere voorwaardes aan mnr. Lambrechts voorgelees.
Dit bestaan onder andere uit die volgende punte:
Die gesondheid en veiligheidsertifikaat moet op die perseel wees,
Daar moet behoorlike ondersoek ingestel word oor die omstandighede van die insident.
Werkers wat terugkeer na die werk moet vry wees om dit te doen, daar mag nie teen hulle gediskrimineer word nie. Dit moet op skrif gestel word.
Mnr. Lambrechts moet sy samewerking gee aan Departement Arbeid se ondersoek oor die kontrakte van sy werkers.
Die Bestuur van Oranjerus moet dit op skrif stel dat hulle hul volle samewerking sal gee aan die eise wat aan hul gestel word, soos aangevra in die memorandum.
Die werknemers wat gestaak het as gevolg van hierdie insident, moet ten volle vergoed word vir die dae wat hulle nie kon werk nie.
Daar moet in gesprek getree word oor hulp op mediese gebied.
Daarna het mnr. Stanley Peterson gesê dat die ZFM Distrik ondersoek gaan instel oor die veiligheids- en ander sertifikate by Oranjerus en Red Ox.
Die Jeugliga het mnr. Lambrechts 24 uur kans gegee om te reageer op die memorandum.
‘n Volledige persverklaring vanaf Lambrechts se prokureurs sal op die Gemsbok se Facebookblad geplaas word. Met ons ter perse gaan, was dit nog nie beskikbaar nie.









