GEMSBOK-KURUMAN: ’n Voormalige polisiekonstabel, wat probeer het om munt te slaan uit ’n kapingsondersoek, sal die volgende ses jaar agter tralies deurbring - nadat hy deur die Kuruman-streekhof skuldig bevind is aan korrupsie.
Die woordvoerder van die Valke in Noord-Kaap, adjudant-offisier Nomthandazo Mnisi, het gesê dat Johannes Shuping, 44, hierdie week tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis is, nadat die hof bevind het dat hy omkoopgeld gevra het - terwyl hy as ondersoekbeampte in ’n kaping- en roofsaak gedien het.
Hy is in 2018 in hegtenis geneem na ’n lokval deur die Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad.
Shuping is destyds toegewys aan ’n saak - met ’n verdagte wat in Jan Kempdorp in hegtenis geneem is vir die besit van ’n vermoedelik ge-steelde voertuig.
In plaas daarvan om die ondersoek volgens die boekie te volg, het Shuping ’n geleentheid gesien om homself te verryk.
Hy het die verdagte genader en R11 000 geëis om die saakdossier te laat “verdwyn”.
Die verdagte het R6 000 oorhandig, maar kon nie die ba-lans betaal nie.
Hy het toe sy prokureur gewaarsku, wat hom na die Valke verwys het.
’n Geheime operasie is opgestel en Shu-ping is op heterdaad betrap, nadat hy ’n verdere R4 000 aanvaar het.
Na ’n lang verhoor is hy skuldig bevind op twee aanklagte van korrupsie. Hy is tot ses jaar direkte gevangenisstraf op elke aanklag gevonnis, met die vonnisse wat gelyktydig uitgedien sal word. Die hof het ook beslis dat Shuping ongeskik is om ’n vuurwapen te besit.
Die hoof van die Direktoraat vir Priori-teitsmisdaadondersoek in die Noord-Kaap, generaal-majoor Steven Mabuela, het die ondersoek- en vervolgingspanne geprys vir hul werk om korrupsie binne die polisie-diens uit te roei.