RUSTENBURG HERALD - SWARTRUGGENS - Wat gebeur Saterdag 26 April op Swartruggens? Die NG Kerk hou basaar! Maar kom stap eers saam om “Uitreik vir Kanker” te ondersteun.
Die 5km en 10km stappers vertrek om 07:00 - gaan draai dan by die saal. Tonne rou wors, maalvleis, sosaties, kookvleis, enkele snitte, steak, biltong en droëwors word verkoop teen heel billike pryse. Dis jou winskoop vir die dag! Intussen sorg Boeremusiek-op-Wiele se musikante vir die regte atmosfeer.
Maak ‘n draai by die stalletjies vir "bunny chows", vetkoek en maalvleis, kerrie en rys, ribburgers, pannekoek, poedings en ander eetgoed. Kry ‘n koppie koffie of tee, koeldrank of selfs ‘n ietsie-sterkers-vir-die-dors en geniet dit onder die bome of by die groot tent. Koop genoeg kleinkoekies, koeksisters en ander soetgoed vir die huis.
Die veiling om 11:00 beloof om ‘n hoogtepunt te wees. ‘n Jagnaweek met ‘n blouwildebees en twee rooibokke is nie te versmaai nie. Dan is daar ‘n tuisgim, ‘n lessenaar of twee, muurhorlosies en nog meer. Maak gereed om ernstig te bie!
Vir die kinders is daar definitief ook pret en vermaak. Dis springkasteel, boeresport, gesig verf, kinderkuns en nog meer. ‘n Trekkertjie en wa is die treintjie vir die dag! Die skyfskiet is natuurlik vir almal! Daar is ook stalletjies wat spesiale items van die hand sit en ‘n wit olifanttafel. As jy nie genoeg kontant byderhand het nie, moenie bekommer nie, daar is gesorg vir ‘n ATM!
Die “hekke” maak reeds om 07:30 oop. Toegang is R10 per persoon. Kuier saam by die groot, wit klipkerk, net soos jy Swartruggens inry vanaf Rustenburg - daar waar die vlae (haaivinne) vrolik wapper!
Vir enige navrae, kontak vir Barend Marais by 083 277 6605 of die kerkkantoor by 082 468 8748.