Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

RUSTENBURG HERALD - RUSTENBURG - Die VF Plus dring daarop aan dat raadslede in die ANC-beheerde Rustenburg-plaaslike munisipaliteit (RLM) persoonlik aanspreeklik gehou word vir finansiële verliese van die munisipaliteit wat voortspruit uit onwettige of onreëlmatige raadsbesluite. 
Dié standpunt van die VF Plus volg op die onlangse omstrede aanstelling van die Rustenburg Munisipaliteit se munisipale bestuurder wat op onreëlmatige wyse plaasgevind het, aldus Adam Bossau - VF Plus-raadslid van die Rustenburg Munisipaliteit. Volgens Bossau maak munisipale wetgewing inderdaad daarvoor voorsiening dat raadslede vir omstrede or onregmatige besluite aanspreeklik gehou kan word. 

Die VF Plus het Vrydag in 'n skrywe aan die speaker in die munisipale raad, me Lebogang Pule, daarop gewys dat die party se raadslede nie enige aanspreeklikheid aanvaar vir finansiële verliese of regsgevolge wat sou spruit uit die onreëlmatige aanstelling van mnr Ashmar Khuduge as munisipale bestuurder nie. Volgens Bossau is die Rustenburg Munisipaliteit tans in 'n regsgeding gewikkel rondom die aanstelling van Khuduge.
Die party het reeds op 8 September 2023 tydens 'n raadsvergadering daarop gewys dat die aanstelling onreëlmatig en in stryd met verskeie proseduriële bepalings van die toepaslike munisipale wetgewing is. Die VF Plus was die enigste party in die raad wat teen die aanstelling beswaar gemaak het en dit dienooreenkomstig laat notuleer het. 
Dit het intussen aan die lig gekom dat die LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake in Noordwes, me Nono Maloyi, in 'n skrywe aan die RLM-burgemeester in Oktober dieselfde mening gehuldig het. "Hierdie voorval belig weer die gevolge van die ANC se roekelose omgang met belastinggeld om sy kaderontplooiingsdoelwitte ten alle koste te bereik", het Bossau aan Rustenburg Herald gesê. Die VF Plus sal voortgaan om die prosesse te monitor om te verseker dat die betrokke raadslede aanspreeklik gehou word.