Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Hettie en James Cunningham het baie sakke sout saam opgeëet en kyk nou na ‘n huwelik van 65 jaar terug en besef dat dit meer suiker as sout was.

Die egpaar het hul 65ste troudag op Woensdag 28 Mei gevier. Albei is nou 86 jaar oud.

Klerksdorp Rekord het hulle vroëer die week by hul woonplek in Panoramapark besoek, waar hulle tussen koek en tee gesê het daar is niks spesiaals beplan vir dié mylpaal nie. Op hul goue bruilof 15 jaar terug is daar fees gevier, want dit was darem ‘n groot mylpaal.

 

Die Cunninghams is in 1960 in Bloemfontein getroud. Hettie was ‘n Vrystater en het by TrustBank gewerk. James, oorspronklik van die Oos-Kaap, was ‘n student in Sosiale Wetenskappe en Finansies by Kovsies. Hulle was onderskeidelik 20 en 21 jaar oud en die liefde het geblom.
Volgens hulle was dit liefde met die eerste oogopslag. Hettie vertel sy het vir haar ouers al na hul eerste amptelike afspraak gesê sy gaan met hom trou.

Die egpaar het in 1976 na Klerksdorp verhuis en dit is hier waar James diep spore gelaat het. Hy was betrokke by Vaal Reefs, was stigterslid van KDM (die destydse myn mediese fonds) en die visionêr wat besluit het om Wimedpark Privaat Hospitaal in 1996 te bou. Hettie onthou nog hoe hy haar die plek gaan wys het waar die hospitaal gebou gaan word. “Toe was daar net klippe. Onthou Klerksdorp het eintlik geëindig by die hipermark in daardie jare.’’

James is baie in sy noppies met die prag hospitaal en praat met trots oor Onkologie wat later gebou is, toe die spreekkamervleuel en die nuwe Ongevalle. Nou is ‘n harteenheid ook in aanbou. 

Albei is afgetree en vat die lewe rustig. James was al voorsitter van Panoramapark, maar is deesdae net betrokke by finansies en admin. Hulle woon die afgelope 13 jaar by die aftree-oord.

Hulle het drie kinders waarvan twee nog leef - ‘n dogter in Pretoria en ‘n seun in Nieu-Seeland. Hulle het drie kleinkinders, twee agterkleinkinders en die een agterkleinkind wat ook James Cunningham heet, is die sesde geslag.

“Ons is so lank getroud omdat ons diep gelowig is, mekaar met deernis behandel en baie geduld speel ook ‘n rol. Ons gun mekaar ook ruimte en elkeen het nog sy eie identiteit,” vertel Hettie.