Klerksdorp Rekord, Stilfontein - ‘n Bejaarde man is van moord aangekla nadat hy ‘n inbreker doodgeskiet het wat besig was om in te breek by sy huis in Cloetestraat.
Sydney Heyns (73) bedryf ‘n snoepwinkel vanuit sy huis. Volgens rdl Portia Burrell teiken inbrekers die huis nou en het hy reeds verskeie kere sake gemaak by die polisie. Vrydagaand 24 Oktober na 22:00 het ‘n inbreker weer deur ‘n venster gebreek om in te kom. Heyns het met sy vuurwapen losgebrand en die man doodgeskiet. Op sekuriteitsgroepe kan gehoor word hoe hy hygend na asem om hulp roep met die woorde: “Inbreker inbreker asseblief asseblief.’’
Klerksdorp Rekord het verneem dat die inbreker vyf keer in die bors geskiet is terwyl hy deur die venster geklim het. Hy was halflyf deur die venster in die vertrek.
Kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Heyns op Maandag 27 Oktober op ‘n moordklag in die hof verskyn het. Hy is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Op dieselfde dag is daar weer ‘n inbraak by sy huis aangemeld. Myburgh het gesê op 18 Oktober is daar ook ‘n saak van diefstal gemaak by dieselfde adres, en terwyl die beskuldigde in die selle was, is daar weer ‘n huisbraak- en diefstalsaak gemaak.
“Dit beteken daar is drie keer binne tien dae ingebreek, wat seker deur die hof in aanmerking geneem sal word,’’ het sy gesê.
Die saak teen Heyns is uitgestel na 3 Desember vir verdere ondersoek.










