Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Riaan en Muriel Geldenhuys sukkel om die dood van hul enigste seun te verwerk.
Johan Geldenhuys (22) is omstreeks 18:00 op Sondag 19 Oktober op die Buffelsdoornpad oorlede. Hy het by sy oom in Klerksdorp gekuier en was op pad terug plaas toe. Sy ouers boer op die plaas Buffeldoorn buite Stilfontein.
“Daar was ‘n ooggetuie. Ons weet nie hoeveel hy gesien het nie. Ons vermoed Johan het ‘n ander motor probeer verbygaan en het toe uitgeswaai vir ‘n aankomende motor. Die bakkie het toe gerol. Ek en Riaan het gaan kyk en die gras is onlangs gesny, maar daar is ‘n klip wat uitstaan. Ons vermoed hy moes die klip getref het. My seun kon bestuur. So dit moet ‘n fratsongeluk wees,” vertel Muriel. Sy dink hy is op slag dood.
“Johan was bedoel om te boer. Hy sou die plaas oorneem en hy het geleef daarvoor. Nou is alles deurmekaar. Ons wil hom nou net begrawe en sal later oor die toekoms besluit,” sê sy. Sy beskryf haar seun as ‘n man wat altyd geglimlag het, altyd ‘n grappie gehad het. Hy was enkellopend, maar het ‘n vriendin gehad wat op Vrede bly.
Johan was in Laerskool Goudkop en toe by Clever Kids, voor hy plaas toe is om te boer. Die egpaar het nog ‘n ouer dogter.
Johan se begrafnisdiens vind om 11:00 op Maandag 27 Oktober in die Hervormde Kerk, Doringkruin plaas.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.










