Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

24 Oktober 2025

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Veiligheid in die middestad is weer in die kollig nadat dit bekendgeraak het dat die bekende sanger, Jo Black die jongste slagoffer van misdaad in Klerksdorp se berugte sakekern is.

Grypdiewe het sy selfoon by sy motorvenster gegryp toe hy op die hoek van Voortrekker- en OR Tambostraat by ‘n verkeerslig stop. Die venster was ‘n skreef oop. 

Volgens Cassie Bester van die NW High Risk Unit het die diewe hul nou al bekende metode gebruik om die motoris se aandag te trek aan die een kant van die voertuig, en dan aan die ander kant toe te slaan. Black het ‘n diefstalsaak aanhangig gemaak. Hy wou nie kommentaar lewer oor die voorval nie. In nog ‘n skokvoorval verlede week, is ‘n sestienjarige skoolmeisie reg voor Binnelandse Sake aangerand toe diewe haar selfoon wou gryp. Sy is in die hospitaal opgeneem. 

Sy het ‘n afspraak gehad om haar identiteitsdokument af te haal en dit is toe sy haar selfoon by die ingang uithaal om die bewys van afspraak aan sekuriteit te oorhandig, dat die boewe hul kans waargeneem het. 

Haar pa was saam met haar en dit het hulle nie eers afgeskrik nie, het die kind se ma ontsteld gesê. 

Hulle wou nie verder met Klerksdorp Rekord oor die voorval praat nie en het gesê hulle is almal getraumatiseerd. “Ons het nie ‘n saak gemaak nie, wat help dit tog? Ons is moeg vir hierdie nonsens.’’

Kapt Elize van Schalkwyk van Klerksdorp SAPD, het weereens gevra dat slagoffers van misdaad sake aanmeld sodat genoeg hulpbronne aan die probleem toegewys kan word. “Tans word die mobiele polisie-eenheid in OR Tambostraat beman in ‘n gebied waar heelwat voorvalle al aangemeld is. Polisielede in uniform en ook in privaatdrag patrolleer die middestad. Die publiek kan ook behulpsaam wees deur nie waardevolle goed soos selfone en skootrekenaars oop en bloot in die middestad te hanteer nie. En hou vensters toe en deure gesluit as jy deur die middestad ry.”