Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Dr Kobus Visser se boek is ’n noodsein aan alle Christene; ’n wekroep om kennis te neem van die toestand in die kerk (NG en universeel) en daadwerklik op te tree.
Dit bevat inligting wat vir elke Christen as riglyn kan dien om te bepaal of dwaalleer verkondig word, sowel as ander inligting wat van onskatbare waarde vir Christene is in die tyd waarin ons ons tans bevind.
In hierdie boek bespreek Kobus Visser pogings om soveel as moontlik gelowiges van die Christelike geloof weg te rokkel, nadat hy die afgelope 20 jaar daarby betrokke was en dit diepgaande bestudeer het.

In die boek bespreek hy ’n verskeidenheid redes waarom veral die NG Kerk in ’n noodtoestand verkeer; dit is egter nie net die NG Kerk wat in ’n noodtoestand verkeer nie, maar inderdaad die universele kerk. Die skrywer bespreek dít wat hy persoonlik die laaste sowat 20 jaar in die kerk beleef het. Hy is ’n evangelis en was ook betrokke  by die aanklagte van dwaalleer wat in 2006 teen ‘n aantal professore gebring is. Hy was ook deel van ’n landwye forum van sowat 50 leraars en lidmate wat dwaalleer in die NG Kerk daadwerklik beveg het. Dit het onder andere uitgeloop op die publikasie van ’n boek, Die Trojaanse perd in die NG Kerk: die kanker van evolusie en liberalisme, waarvan hy ’n medeskrywer was.

Hoewel daar plek-plek in hierdie boek na gebeurtenisse en spesifieke persone in die NG Kerk verwys word, is dit meesal van toepassing op denominasies in die algemeen en kerke wêreldwyd.

Die verkondiging van die ware evangelie is vir Visser van groot belang.  Dit is sy bede dat die kerk erns sal maak daarmee om die volle evangelie aan verlore mense te verkondig, soos wat Jesus en die apostels dit gedoen het, sodat ware bekerings kan plaasvind. Wanneer iemand tot bekering kom , moet hy opgelei word om ’n dissipel te word wat van ander mense dissipels maak. 

Daar moet ook onderskei word tussen ware en vals kerke. Alle ware Christene is deel van die universele kerk - dit is ’n geestelike eenheid; dit is die eenheid waarna in die Bybel 
verwys word, nie ’n strukturele eenheid nie. Vir die laaste 70 jaar beywer die ekumeniese beweging hom daarvoor om die kerk struktureel te verenig ten koste van die geestelike eenheid. Dit het ook die deur oopgemaak vir wat eenwêreldgodsdiens, synde die samekoms van alle gelowe - Christene, Moslems, Rooms-katolieke, Boeddhiste, Mohammedane, ensovoorts - ten doel het.

In die hoofstuk oor dwaalleer word die erns van misleiding in die universele kerk ondersoek, ten einde te bepaal wat die redes daarvoor is en watter metodes Satan gebruik om mense te mislei, sodat ons as Christene ons daarteen kan verset.

Dwaalleraars het ’n lae dunk van die Bybel. Hulle verkondig wyd en syd dat hulle steeds met die Bybel erns maak, maar vir hulle is die Bybel mensewoorde oor God, en bloot oergeskrifte. Hulle  streef nie na verantwoordbare herinterpretasie van die Skrif nie - hul hooffokus is om die Skrif aan te pas by die kultuur van die dag.

Hierdie boek is ’n moet lees vir elkeen wat besorgd is oor die geestelike toestand van die kerk. Dit is nie ’n boek vir vluglees nie; dit moet met aandag gelees en weer gelees word. Dit is ’n goeie wegspringplek vir navorsing oor die temas wat bespreek word. In die boek word die volgende vrae onder die loep geneem: Wat en wie is die kerk? Wat is van die belangrikste redes vir die geestelike noodtoestand in die kerk? Hoe weet ek of ’n kerk ’n ware of ’n vals kerk is? Wat is die kenmerke van ’n dwaalleraar? Wat is die Bybel? Hoe val Satan die kerk en die Bybel aan? Die verskillende ideologieë wat Satan gebruik. Wat is die evangelie? Hoe werk die wedergeboorte? Wat is ’n ware Christen? Hoe word ek gered? Hoe weet ek dat ek gered is? Kan ek seker wees van my redding? Kan ek my redding verloor? Hoe kan ek ’n heilige lewe lei? Wat is bekering? Is daar ’n vals bekering? Is daar geloof wat nie red nie? Is alle kerkmense gered? Wat is opsig en tug? Wat beteken dit om ’n dissipel van Jesus te wees? Is daar ’n wegraping? Is daar ’n letterlike duisendjarige vrederyk? Wanneer is die wederkoms?

Die boek kan deur Takealot bestel word, of kontak dr Visser by 082 415 0713 of This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..