
Die Laaste Leuen deur Anita du Preez | Uitgegee deur NB Uitgewers
Daar bestaan twee weergawes van die skrywer Anita du Preez: BC (before cancer) en AC (after cancer). Voor borskanker was sy ’n goeie, gawe liefdesromanskrywer. Ná kanker is sy “’n menéér van ’n vrou”; ’n rillerskrywer wat op 76 wedlope hardloop, vloek, en die middelvinger wys’’. “Ek is darem nooit godslasterlik nie,” sê sy. Anita woon anderkant die Kaapse lensiegordyn in Vishoek - myle verwyderd van die konserwatiewe, byna Victoriaanse huishouding van haar kinderjare in die Oos-Kaap, waar selfs “dêmmit” heeltemal buite die kwessie was. Vloek is maar een van die tydverdrywe wat Anita met haar hoofkarakter, Sophia, deel: Nes Anita, is Sophia kloustrofobies, kunstig, lief vir haar pa, ’n people pleaser, ’n late bloomer, en sy haat leuens.
“Altwee van ons moes eers deur ’n helse ervaring gaan om uit te vind wie en wat ons werklik is en waartoe ons eintlik in staat is,” sê Anita.
Die Laaste Leuen is so reg in die kraal van liefhebbers van Liane Moriarty en Lisa Jewel se boeke. Dit gaan oor Sophia Blijdenstein wat van poging tot moord op haar man aangekla word. Sy het ‘n ‘black out’’ beleef en wanneer sy bykom, vind sy haar man, die popster Max Bladen, bewusteloos met ’n dodelike wond aan sy kop. Sy lewe hang aan ’n draadjie. En dit is net sy in die huis saam met hom.
Te midde van ’n mediasirkus word Sophia vir poging tot moord gearresteer. Sy sal bitter vinnig ’n manier moet vind om haar onskuld te bewys - al kan sy niks onthou nie. Max is in ’n koma... Sê nou net hy sterf? Maar is sy werklik onskuldig? Sophia weet self nie.
Sy weet net sy moet niks aan sersant Wolfgang Bekker laat blyk van daardie Lila-vroumens oor wie sy en Max gestry het nie. Óf dat sy soms met haar oorlede pa gesels nie. Want dan word sy sweerlik vir altyd toegesluit.
Kry Die Laaste Leuen by ‘n boekwinkel naby jou.