Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Vryskutskrywer en taalpraktisyn van Klerksdorp is met die Orde van die Beiteltjie vereer. Leoni Benghiat het die toekenning vandeesweek in Klerksdorp ontvang vir haar bevordering van Afrikaans. Die toekenning is in 2015 vir die eerste keer toegeken deur Cordis Trust, ‘n organisasie sonder winsbejag. Dié trust is in 2000 gestig en gefinansier deur dr Fanie Marais as ‘n gedenktrust vir sy dogter, Mardene wat in 1989 op 21-jarige ouderdom oorlede is.

Leoni is die stigter van SA Vryskutskrywer en beskou Afrikaanse skryfwerk as haar passie. Sy is ‘n oudjoernalis wat 30 jaar gelede noodgedwonge as vryskutskrywer begin werk het. Dit het haar opgeval dat daar geen hulpbronne of riglyne vir Afrikaanse vryskutskrywers was nie, en sy het stadig maar seker haar eie hulpbronne begin ontwikkel en met kollegas gedeel. In 2009 het sy SA Vryskutskrywers tot stand gebring. “Ek wou my passie met almal wat Afrikaans skryf en wíl skryf, deel. Ek wou help dat my taal nie in die vergetelheid verdwyn nie. Ek wou weet dat Afrikaanse tydskrifte, koerante en boeke sal bly voortbestaan.

“Ek wou ‘n bydrae lewer tot die ontwikkeling van Afrikaans, maar ek wou help opvoed ook, want ons het laks geraak. Taalfoute in boeke, koerante en tydskrifte wat tien jaar gelede ‘n doodsonde was, het alledaags geraak.

“Ons is besig om ons taaltrots te verloor. En die enigste teenvoeter wat ons het is onsself.’’

Vandag hou sy haar besig deur ander te help om hul skryfdrome te verwesenlik. “Dis wat ek nou voltyds doen - ek bly in die agtergrond en help ander mense om hul skryfdrome te verwesenlik. Die bevrediging wat ek daaruit put wanneer ander mense skryfsukses behaal kan nie in woorde omskep word nie. En hoewel my bydrae maar klein is, weet ek dat ek besig is om Afrikaans se voortbestaan te verseker - en dit op sigself is ‘n reuse beloning.’’

Leoni woon saam met haar 92-jarige ma in Declerqville en haar vyf hondekinders.

Die Orde van die Beiteltjie is ook aan Rina Cascione, Margaret Cordier en Aniki Joseph oorhandig. Dié vier trotse ontvangers sluit nou aan by die vorige 39 ontvangers wat met hierdie simbool van voortreflikheid beloon is.