
Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - Die Aardklopspan het Vrydagaand 31 Oktober die beste van die beste van vanjaar se fees by ’n toekenningsgeleentheid in die Kaap vereer.
Hoewel die fees nie ’n kompetisie is nie - kuns is immers grensloos - is dié pryse tog jaarliks bedoel as aansporing vir die land se kunstegemeenskap om aan te hou kuns, dikwels te midde van uitdagende omstandighede.
Die feesaanbod was oudergewoonte uitstekend en het ’n groot verskeidenheid ingesluit. Dit het gesorg dat die beoordelaarspaneel se taak nie ’n maklike een was nie.
“Vanjaar se Aardklop-fees was ‘n lewendige vertoonkas van teater, musiek en kuns, met ’n reeks produksies en uitstallings wat aan uiteenlopende smake voldoen het,” sê die paneel in ’n verklaring. “Die klassieke-musiekprogram het uitgestaan vir sy uitsonderlike gehalte, wat die skepping van ’n nuwe kategorie - Beste Uitvoering: Klassieke Musiek - tot gevolg gehad het. So ook is die UitKlop-toekenning ingestel om produksies te vereer wat durf en oorspronklikheid getoon het.’’
Vanjaar se groot wenner is Seun, wat met ’n allemintige vyf toekennings wegstap: Beste Akteur (Wilhelm van der Walt), Beste Regisseur (Nico Scheepers), Beste Aanbieding: Toneel, Beste Algehele Aanbieding én Hartsvriende Beste Produksie.
Oor dié eenmanstuk, wat gegrond is op die skrywer Dana Snyman se gelyknamige boek, sê Scheepers: “Baie dankie, Aardklop. Dankie dat julle die vure van kuns en Afrikaans steeds laat brand, en vir die platform om werk te skep wat durf en waarheid vra.
“Seun is gebou op diep vertroue en enorme toewyding - veral van Wilhelm van der Walt, wat sy hele wese kom gee het. En dankie aan (die vervaardiger) Leftfoot vir jul leiding en onwrikbare steun. Dana Snyman, dat jy jou verhaal so eerlik en skroomloos met die res van ons gedeel het.
“Ek’s ongelooflik trots op hierdie span, en dankbaar dat julle hierdie storie raakgesien het.”
Scheepers het ook vir Dana Snyman as die skrywer vir sy storie bedank, en vir die voorreg om dit met gehore te kan deel.
- Aardklop het ook reeds bekendgemaak dat die fees volgende jaar oudergewoonte sal saamval met die September-skoolvakansie, en dus van 29 September tot 4 Oktober (feesterrein: 29 September tot 3 Oktober) sal plaasvind.