Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die stalletjiesmark wat naweke by die Pick n Pay Hipermark gehou word, se eerste mark vir November was ‘n rasende sukses. Tydens die mark is prominente Klerksdorpers in ‘n groot staalhok toegesluit om fondse in te samel vir die kankervereniging. Meer as R20 000 is ingesamel en die organiseerder, Tinus van Staden, het gesê die finale bedrag wat oorbetaal is, sal in Klerksdorp Rekord bekendgemaak word.
Nellie de la Rey, afgetrede bemarkingsbestuurder van Pick n Pay, is ook toegesluit en het ‘n raps oor die R3 000 ingesamel vir die goeie saak. Sy het al haar vriende bedank wat die goeie saak ondersteun het. Van Staden wat ook toegesluit was saam met die eienaars van Pro Watch Security, Cheryl Katz, Marius Niemand en ander, het almal bedank vir hul bydrae tot die fondsinsameling. Die volgende mark is op 29 November.