Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - As die Matlosana Munisipaliteit nie teen Woensdag 5 November aan die Noordwes Hooggeregshof se bevel oor die Klerksdorp-rioolaanleg voldoen nie, sal AfriForum voortgaan om ’n klag van minagting van die hof in te dien.
Dit volg ná die munisipaliteit nie, soos die hof op 24 Julie vanjaar beveel het, elke drie maande ‘n omvattende verslag oor die vordering van herstelwerk, sekuriteitsmaatreëls en instandhoudingsplanne by die aanleg in Phuthaditjhabastraat ingedien het nie. Die bevel is gemaak nadat die munisipaliteit versuim het om ook aan ’n vorige bevel van 19 Januarie 2023 te voldoen.
“Hierdie aanhoudende minagting van hofbevele wys hoe diep die verval by Matlosana lê.
“Terwyl rou riool in strate en riviere invloei, kies die munisipaliteit om die hof en die gemeenskap te ignoreer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die oorspronklike hofbevel het die munisipaliteit verplig om nie net herstelwerk te doen nie, maar ook om sekuriteit teen diefstal en vandalisme te verbeter, en om ’n volhoubare instandhoudingsplan vir die aanleg te implementeer. Tot dusver het geen van hierdie maatreëls noemenswaardige vordering getoon nie.
“AfriForum sal nie toekyk hoe riool infrastruktuur in duie stort en gemeenskappe se gesondheid en waardigheid bedreig word nie.
“Ons sal voortgaan met die minagtingsaansoek as die munisipaliteit nie aan die hofbevel wil voldoen nie en die verantwoordelike amptenare persoonlik aanspreeklik hou vir die koste,” sê Pretorius.
AfriForum het die munisipaliteit reeds gemaan om die onwettige en onaanvaarbare verwaarlosing te stop en wag tans op formele terugvoer. Indien daar nie gereageer word nie, sal die saak terug na die hof geneem word om afdwinging van die bestaande bevel te verseker.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir Alta Pretorius by 081 392 2071.










