Klerksdorp Midweek, Klerksdorp Klerksdorpers het Amira Willighagen toegejuig na haar vertoning in die stad oor die naweek. Die Nederlandse sopraan was duidelik emosioneel toe die gehoor in die Hervormde Kerk Morester haar op Vrydag 9 Mei toejuig. Die kerk was stampvol en diegene wat die vertoning bygewoon het, kon nie uitgepraat raak oor die meisie met die goue stem nie. Sy het die eeufeesviering van Afrikaans in haar vertoning ingewerk en haar positiwiteit oor die taal en die land is ‘n riem onder die hart.
Sy het onder meer liedjies van Annelie van Rooyen gesing, Pie Jesu van Andrew Lloyd Webber, musiek uit My Fair Lady, die area O mio babbino caro van Puccini wat sy gesing het toe sy Holland’s Got Talent gewen het asook musiek wat Mimi Coertse bekendgemaak het.
Sy het gepas afgesluit met Time to say Goodbye van Andrea Bocelli en Sarah Brightman.
Die kaas-en-wyn en wynveiling na die vertoning was ook ‘n reuse sukses. Die gemeente het die konsert as ‘n fondsinsameling gereël.