Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Graan SA waarsku dat die volhoubaarheid van die Suid-Afrikaanse koringbedryf in ernstige gevaar is, met produsente wat toenemende insetkoste, lae internasionale pryse en onvoldoende markbeskerming in die gesig staar. Die organisasie roep alle rolspelers in die stroom-op- en stroomafwaardeketting, insluitend die publiek,
op om die krisis dringend aan te spreek. Graan SA sê die Suid-Afrikaanse koringbedryf is in ’n krisistoestand. Stygende insetkoste, onderdrukkende internasionale pryse en ’n tariefstelsel wat nie tred hou met markrealiteite nie, plaas produsente op die rand van finansiële ondergang. Indien ingryping nóg vertraag, kan plaaslike produksie onomkeerbaar afskaal.
Op 27 November is ‘n invoertarief van R616/ton gesneller, en die Staatskoerant-proses is deur SAGIS geaktiveer. Dit volg na ‘n finale voorlegging wat Graan SA en SACOTA in Oktober aan ITAC se hoofkomissarisse gedoen het. Die aansoek - vir ‘n aangepaste basisverwysingsprys en ‘n outomatiese snellermeganisme – is reeds in Junie 2024 ingedien en wag nou op finale verwerking.
Volgens Richard Krige, Voorsitter van Graan SA, is die huidige marktoestande en kostestrukture onvolhoubaar vir plaaslike produsente. “Brood is ’n stapelvoedsel vir miljoene Suid-Afrikaners, maar min besef dat die produsente wat hierdie gewas verbou, onder geweldige druk staan,” sê Krige. “Met produksiekoste van sowat R16 000 per hektaar en ’n gelykbreekpunt van minstens 3,4 ton per hektaar, is die huidige prysvlakke nie lewensvatbaar nie.”
Koring maak slegs 18% uit van die koste van ’n brood. Op ’n brood van R17,92 ontvang die produsent net R3,23. Dus, sal ‘n verhoging in die koringprys nie ‘n beduidende impak op die prys van ‘n brood hê nie. Die bedryf skep sowat 12 600 werksgeleenthede, waarvan 73% in die Wes-Kaap is. Dit neem nie werkskepping van die ander lede van die waardeketting, soos insetverskaffers, silo operateurs ens., in ag nie.
Die wegval van plaaslike produksie kan verbruikers tot R643 miljoen per jaar duurder te staan kom vir brood van dieselfde gehalte.
Graan SA beklemtoon vyf prioriteit intervensies wat onmiddellik aandag verg:
- ‘n Doeltreffender invoertariefstelsel.
- ’n Aangepaste basisverwysingsprys.
- ’n Outomatiese snellermeganisme.
- Die huidige aansoek word vertraag deur die meulbedryf se weerstand teen verwysingsprysverandering.
- Beperking of invoere tydens plaaslike strooptyd.
Krige waarsku dat die tyd vir besluitneming vinnig opraak: “Sonder vasberade en gekoördineerde ingryping van die staat én die waardeketting, staan die koringbedryf voor ’n werklike voortbestaanrisiko. “As produsente val, val die hele ketting - en uiteindelik betaal die verbruiker en plattelandse ekonomieë die prys.”










