Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Geloftedag word op 16 Desember weer op ver-skeie plekke in en om Klerksdorp gevier. Die Verkenners se plaaslike tak hou jaarliks ‘n Geloftefees by Môrester Hervormde Kerk langs die N12. Daar is nie net 09:00 ‘n erediens nie, maar ook ‘n geskiedkundige vertelling en feesrede deur prof Eric Holm, een van die laase ossewamakers in Suid-Afrika.
So kan mense nie net die dag as ‘n Sabbatdag vier nie, maar juis ook met die kinders en opkomende geslagte die geskiedenis en betekenis van Geloftedag deel. Ds Andre de Jager sal preek.
Daar sal ook koeksisters en melktert met gemmerbier na die erediens in die Kerksaal bedien word.
Op Orkney het die gemeenskap by die Hervormde Kerk, hoek van Milton- en Kiplinglaan om 08:00 ‘n tradisionele Geloftefees wat die APK, Hervormers, Gereformeerdes en NG Kerk ondersteun.
Dit sal begin met ‘n historiese vertelling deur ds Joseph Steyn met sy voorlaaiers, assegaaie en kanon. Daarna sal ds Wessel Swart die Geloftediens lei. Na die bevestiging van die Gelofte word daar koeksisters en melktert in die saal bedien.
Oudorp se Hervormde Kerk het om 09:00 ‘n Geloftediens wat deur ds Piet Botha gelei sal word. Dis net ‘n erediens en almal is welkom.
Die Geloftefees op Sendelingsfontein uit op die N12 Wolmeransstadpad is ‘n belewenis. Daar word saamgesing, Geloftediens gehou om 10:00 en daarna is daar ook ‘n lekker ete te koop sodat almal kan saam eet en kuier. Bring eie eetgerei en stoele om ‘n heerlike ouwêreldse Geloftefees te beleef. Diens is deur Past Braam Venter.
Paardeplaats Geloftefees is in die Hartbeesfontein-omgewing.
Verrigtinge begin om 10:00. Ds Schalk Scott sal preek. Daar word ‘n gratis middag-ete gegee. Bring net jou eie stoel, koeldrank en eetgerei. Wimpie Lambrecht het meer inligting by 082 779 8326.
As jy met vakansie gaan, kyk gerus op geloftefeeskalender.co.za vir ‘n fees naby jou.










