Klerksdorp Midweek, Pretoria - Stel jou voor: ’n poskantoor, bank, slaghuis, apteek, boekwinkel én derduisende mense wat van oraloor in rye en rye tente op die Voortrekkermonument-terrein saamtrek om fees te vier. Nie net is feesvier en statige seremonies deel van die Afrikaner se DNS nie, maar veral vernuf en fyn beplanning. Hiervan getuig twee historiese geleenthede toe reuse-tydelike dorpe op die Monument-terrein opgerig is: met die hoeksteenlegging in 1938 en die inwyding van die Monument in 1949.
In die gees van Geloftedag wat op 16 Desember oudergewoonte deur duisende mense by die Voortrekkermonument gedenk gaan word, bied die Erfenisstigting (ES) se argief ’n fassinerende nuwe argivale wisseluitstalling, getiteld “Tentedorpe van die Voortrekkermonument”.
Die uitstalling gee ’n gedetailleerde oorsig van die reusagtige tydelike dorpe wat op die Voortrekkermonument-terrein opgerig is sodat duisende mense vir dae lank die feesvierings rondom die hoeksteenlegging en die inwyding van die Monument kon beleef.
1938: Simboliese Ossewatrek
Die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument het saamgeval met die eeufeesviering van die Slag van Bloedrivier. Ter viering is die Simboliese Ossewatrek gereël, waar ossewaens op die spore van die Voortrekkers getrek het. Die trek het op 8 Augustus 1938 in Kaapstad begin en op 14 Desember in Pretoria by die Monument geëindig.
Die Sentrale Voortrekkereeufeeskomitee (SVEK) moes vir die huisvesting van ongeveer 40 000 mense voorsiening maak. Tente en seile is van die Spoorweë en die Departement van Verdediging gehuur. Elke staanplek is uitgemeet en die tentedorp is in laers verdeel, elkeen vernoem na ’n Voortrekkerleier of gebeurtenis soos Piet Retief, Bloedrivier of Kappiekommando.
’n Feesstad is opgerig, kompleet met ’n poskantoor, ’n bank (Die Nasionale Bank Suid-Afrika Beperk) en ’n feessaal met sitplek vir 3 000 mense. Oral op die terrein was stortbaddens, sanitêre geriewe, kosstalletjies en mediese bystand.
Die Afrikaanse Nasionale Studentebond (ANS) het ook vir vier dae lank De Oude Emigrant, die eerste koerant wat in Transvaal verskyn het (1859, Potchefstroom), laat herleef.
Die vier dae lange fees het die bevestiging van 35 huwelike, die doop van 56 kinders, boeresport, en die lê van die hoeksteen deur drie vroulike nasate van Voortrekkerleiers ingesluit. Die totale uitgawe van hierdie fees was £34 000.
1949: Die inwyding en permanente ontwikkeling
Die aanvanklike beplanning was om die Voortrekkermonument in 1943 te open, maar as gevolg van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog en die vertragings wat dit veroorsaak het, is dit eers op 16 Desember 1949 ingewy.
Teen hierdie tyd is permanente infrastruktuur soos paaie en die amfiteater met behulp van die Pretoria Stadsraad aangelê. Water en elektrisiteit is ook op strategiese plekke aangelê.
Weer het ’n tentedorp verrys. Die munisipale landmeterskantoor het meer as 5 000 kampeer- en ander persele afgebaken. Geriewe is in drie kategorieë verdeel: verblyf-, fees- en sakefasiliteite. Die sakefasiliteite het ’n poskantoor, slaghuis, apteek, boekwinkel, banke en fotografiese dienste ingesluit. Ongeveer 3 000 Voortrekkers het in die kamp gebly en met reëlings gehelp.
Die Stadsraad het voorts ’n brandweerstasie voorsien, en drie noodhulporganisasies, die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga, die Rooikruisvereniging en die St. John-Ambulansdiens, was op hul pos.
Meer as 500 polisielede het orde gehandhaaf en verkeer gereguleer. Op 16 Desember is die aantal polisielede verdriedubbel, hoofsaaklik vanweë die groot aantal feesgangers wat na verlore goedere soos motorsleutels en beursies gesoek het.
Ongeveer 250 000 mense het die inwydingsplegtigheid bygewoon. Die totale koste van die feesreëlings was £36 312.
Waardevolle artefakte
Die unieke ES-uitstalling bevat kosbare foto’s, briewe en inligtingstukke wat die verhaal van die beplanning en uitvoering van hierdie twee enorme gebeurtenisse vertel. Dit sluit ook voorwerpe in wat in 2014 met spesiale goedkeuring deur Minelabs South Africa met metaalverklikkers in die area van die 1949-saalfondasies opgegrawe is.
Volgens Petra Luus, argivaris van die ES, is die tentedorpe ’n bewys van die Afrikaner se vernuf en vindingrykheid.
“Uit die argiefdokumente is dit duidelik dat dit ongelooflike logistieke reëlings en samewerking met ’n wye spektrum van departemente en organisasies geverg het. Ek kan my net die samehorigheid indink wat onder die duisende feesgangers geheers het. Die foto’s van die twee gebeurtenisse is werklik besonders en vang belangrike merkers in ons geskiedenis vas.”
Die uitstalling is tot einde Maart 2026 in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument te sien.










