Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die gemeenskap van Songloed het ingespring en ’n groot park opgeruim. Die gemeenskap, onder leiding van die Songloed-buurtwag, het die park tussen Endymion-, Whitfield- en Bulrushstraat en Porterlaan skoongemaak en daar is ook paaie geskraap vir 4x4-entoesiaste, fietsryers en stappers wat gereeld die park gebruik.
Betrokkenes het lede van die Songloed-gemeenskap, AfriForum, Future Forward, Arrow Tuindienste en Action Force-sekuriteit ingesluit. ’n Inwoner van ’n nabygeleë kleinhoewe het ook ’n trekker en skraper gegee om te help met die skoonmaak en om die paaie te skraap.
Dit is vir inwoners heerlik om weer veilig in die park te kan stap en fietsry en die gemeenskap maak deeglik daarvan gebruik. Daar is nou gedurig mense in en om die park wat die natuur geniet, terwyl die park voorheen gebruik is as ’n wegkruipplek vir skelms en ’n plek om hulle buit weg te steek. Nou is daar nie meer wegkruipplek vir hulle nie.
AfriForum se Songloed-buurtwag het ook Afriforum se landwye patrollie in die park afgeskop as opening van die “nuwe”, opgeknapte park. Die gemeenskap het toe sommer ook in die buurt skoongemaak en sal voortaan toesien dat die park netjies bly.
“Hierdie is ’n uitnemende voorbeeld van ’n gemeenskap wat eienaarskap van hulle omgewing neem. Songloed se gemeenskap het die park, wat deur booswigte gekaap was, teruggeneem en nou kan hulle dit weer self gebruik en geniet. Dit bewys net weer dat ons saam sterker is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.










