GEMSBOK-UPINGTON: ‘n Groot groep van die ACVV Dienssentrum op Upington, is verlede week by Ougoud bederf met ‘n vroeë Kersfees-kuier.
Van die bejaardes het met die bussie by Ougoud aangekom en ander met hul eie vervoer. Daar is gekuier van 09:00 tot na 11:00, soos die verskillende groepe ingekom het.
Die bejaardes is ontvang deur leerders van Op die Voorpos en na hul sitplekke geneem.
Mariska Lindeque, bestuurder van Pick ‘n Pay het almal verwelkom.
“Dit was ’n spesiale dag, want dit het ons die geleentheid gegee om vir julle te sê: julle is nie vergeet nie. Julle is die juwele en wysheid van ons gemeenskap - diegene wat dit help bou, lei en met liefde vul.
“Ons is dankbaar vir alles wat julle gedoen het en steeds doen, op maniere wat dikwels nie gesien word nie, maar diep waardeer word. Julle stories, goedhartigheid en voorbeeld herinner ons aan wat werklik belangrik is - omgee, verbondenheid en gemeenskap
.
“Die bederfoggend is ons klein manier om waardering te wys en saam met julle ’n bietjie vreugde te deel.”
Daarna is almal bedien met ‘n heerlike vars koppie tee (van hul keuse), koffie of cuppuccino.
Daarmee saam is lekker skons met die allerheerlikste konfyt, kaas en room asook heerlike cupcakes bedien, wat deur Pick ‘n Pay voorberei is.
Dit was ‘n gesellige oggend waar almal net kon ontspan, na die “mooigoed” in Ougoud kon kyk en lekker gesels.
Die ACVV Dienssentrum sê baie dankie aan Ougoud en Pick ‘n Pay vir ‘n besonderse oggend.
Hannetjie Janse van Vuuren, bestuurder van die Dienssentrum, sê wat vir haar interessant was, is dat die skool hierdie jaar al 140 jaar oud is, die oudste skool in Upington. Moenie uit die oog verloor dat die verhoog se gordyne ook nog die oorspronklike gordyne is, wat na die bou van die saal, gehang is nie.
“Pick ‘n Pay het aan elkeen ‘n geskenkbewys vir ‘n tuisgebakte brood gegee. Op pad terug na hul huise het ons eers gaan stop en die heerlike varsgebakte brood wat ook klaar gesny was in ontvangs geneem.”









