Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

GEMSBOK-UPINGTON: Elke jaar word Wêreld Prematuredag op 17 November deur meer as 60 lande wêreldwyd gevier. 
Hierdie dag fokus daarop om mense bewus te maak van die hoeveelheid babas wat wêreldwyd te vroeg gebore word, die uitdagings wat hierdie babas, hul ouers en gesinne moet oorkom, en wat gedoen kan word om premature geboortes te voorkom. 
Dr Harry Surtie Hospitaal se personeel neem reeds sedert 2011 aan hierdie inisiatief deel. 


Hierdie jaar het die personeel wat betrokke is in die Neonatale Intensiewe Sorgeenheid (NICU) en die Kangaroo Moedersorg Eenheid (KMC), insluitend dokters, verpleegsters, maatskaplike werkers, dieetkundiges, arbeidsterapeute, spraakterapeute, en fisioterapeute, weereens hande gevat en ‘n dag van feesviering spesiaal vir die kleinste pasiënte en hul ystermammas gereël. 
Die gemeenskap van Upington het soos elke jaar saamgespan om hierdie dag ekstra spesiaal te maak met skenkings van baba benodighede, peuselhappies en hul tyd. 
Dr Madelein Pratt het die oggend geopen en elke mamma en personeellid bedank en bemoedig. Pastoor Maré Venter van CRC het ‘n boodskap van bemoediging vir die mammas gebring en CRC Cares het koeldrank vir die warm dag verskaf. 
Twee mammas wat self voorheen premature babas gehad het sowel as ‘n mamma wat tans borsmelk vir die NICU skenk, het hulle stories kom deel met die moeders wat tans in die eenheid is om hulle te bemoedig en te wys dat ‘n mens wel anderkant uitkom. 
Die dames van die VGK het ook die mammas bederf met ‘n optrede van bemoedigende liedere. Na afloop van die oggend het elke mamma ‘n geskenkpakkie ontvang van Landbank met benodighede vir hul babas. Mej Skoukoninging, Denika Muller, het ‘n skenking van klere gebring en Clicks het doeke, klere en baba benodighede geskenk. 
Daar was ook heerlike pers kolwyntjies en pizza skywe vir elke mamma om dit ‘n behoorlike partytjie te maak. 
Die dag is gevul met alles wat pers is, die kleur wat Premdag wêreldwyd verteenwoordig, baie bederf vir elke mamma en baba in die eenheid, en ‘n gevoel van tevredenheid en vervulling vir elke personeellid en lid van die gemeenskap wat die voorreg gehad het om betrokke te wees. 
Die span by Dr Harry Surtie Hospitaal wil ook weereens elke persoon wat gehelp het om die dag spesiaal te maak opreg bedank vir hul bydrae en betrokkenheid.